DIE GEES HOU DIE WERK LEWEND

Gary Wilkerson

“Petrus, ’n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Petrus 1:2-5).

Petrus was opgewonde om te kommunikeer met die kerke van die stede waardeur hy gereis het. Hulle was verworpenes, uit hulle vaderland verban, maar Petrus het vir hulle ‘n pragtige beeld voorgehou. Sy siel was in beroering toe hy gepraat het van heiligmaking van die Gees, van gehoorsaamheid aan Jesus en die voorkennis van die Vader. Hy het gepraat van hoe God hulle sou bewaar en vir hulle ‘n erfenis gee in die Verlosser wat geopenbaar sou word “in die laaste dae.” Hulle was weergebore tot ‘n lewende hoop in Jesus. 

Heiligmaking bemagtig gelowiges deur die werking van die Heilige Gees om gehoorsaam te wees; Hy hou daardie werk lewend. Jy kan Hom dalk soms teleurstel, maar as jy gereinig is deur die bloed van Jesus, werk sy krag steeds in jou, so moenie met veroordeling en skaamte lewe nie.

Net soos hierdie “uitverkore vreemdelinge” verplaas is, mag jy dalk dinge beleef in jou lewe wat lyk soos omverwerpings en terugslae, maar jy kan seker wees dat elke keer wat God nee sê, is dit omdat Hy vir jou iets beter voorberei, iets wat jou in ‘n posisie sal stel om die doelwitte te bereik wat Hy vir jou daargestel het. Hy leef en is aan die werk – en sy beloftes is vir jou!