CHRISTUS SE BESORGDHEID OOR ONS IN ONS BEPROEWINGS

David Wilkerson (1931-2011)

God het geen behae in die beproewing van sy kinders nie. Die Bybel sê Christus is simpatiek teenoor ons in al ons beproewings, en het medelye met ons gevoelens van swakheid. In Openbaring 2:9 sê Hy vir die kerk, “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede.” Hy sê in wese, “Ek weet waardeur julle gaan. Jy verstaan dit dalk nie, maar Ek weet alles daarvan af.”

Dit is noodsaaklik dat ons hierdie waarheid verstaan, omdat die Here sy kinders toets en beproef, “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ’n mens silwer louter” (Psalm 66:10). Die Psalmis sê, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20).

Die Bybel sê baie oor lyding en beproewings in die lewens van gelowiges. Maar dit is belangrik vir elke Christen om te weet en te aanvaar dat God ‘n doel het met alle lyding. Geen toets kom in ons lewens in sonder dat Hy dit toelaat nie, en een van God se doelwitte agter ons beproewings is om ‘n onwrikbare geloof te produseer. Petrus skryf, “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:7). Petrus noem hierdie belewenisse “vuurgloed van vervolging” (sien 4:12).

Die goeie nuus is dat ons die gelooftoets kan slaag! Paulus skryf: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:7). Natuurlik het Paulus geweet hy het steeds baie werk om te doen gehad, maar hy kon opreg sê, “Ek mag Christus dalk nie verstaan soos ek wou nie, en ek is nog nie volmaak nie. Maar wanneer dit kom by geloof en God vertrou deur elke beproewing, weet ek in wie ek geglo het.”

Vestig jou oë op Jesus en prys God deur elke beproewing. Jou hart sal vol blydskap word as jy lofprysing en gejuig beoefen oor die blydskap wat op ons wag.