GEBED GEÏNSPIREER DEUR GOD SE GEES

Jim Cymbala

Paulus het vir die Efésiërs gesê om “met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking” (Efésiërs 6:18). Wat ‘n interessante frase en beeldspraak – bid in die Gees. Bid in, deur, en met die Heilge Gees, wat God self is!

Bykomstig tot hierdie verwysing in Efésiërs, is daar meer: “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing” (1 Korinthiërs 14:15). Let op dat Paulus nie net met sy verstand bid nie, maar ook met sy gees, opgewek en gedring deur die Gees van God.

Waar anders sou die Gees hoofsaaklik werk as in ons menslike gees? Ook, om diegene te teë te staan wat die Liggaam van Christus verdeel, “sinnelike mense wat die Gees nie het nie,” het Judas vir sy leiers gesê dat hulle hulself moes “opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid” (Judas 20, klem bygevoeg).

Hierdie riglyne oor gebed, geïnspireer deur die Heilige Gees, mag vir sommige klink soos emosionele fanatisme. Hulle voel dit is vir daardie “ander mense” wat altyd te hard sing en hulle hande in die kerk oplig elke ses sekondes. Hulle sê, “Dit is nie hoe ek in die kerk grootgeword het nie.”

God het vir ons die Bybel gegee sodat ons biddend en nederig sy dieptes en belewenisse wat dit beloof kan naspeur. Het die Heilige Gees se krag om gebed te inspireer ietwat verdwyn gedurende die eeue ná die boek Handelinge? Sal die Gees ons vandag minder help, veral as ons Hom die nodigste het? Dit klink nie na wat ‘n genadige God sou doen nie.

Hoe sal ons met vrymoedigheid in geloof bid as die Heilige Gees ons nie help nie? Slegs as die Gees ons lei en inspireer, sal ons klim na ‘n nuwe vlak van triomferende gebed. Dan sal vestings val, geliefdes sal besoek word met God se genade, en mense rondom ons sal herinner word dat Christus ‘n lewende Verlosser is en nie net ‘n blote teologiese konsep nie.

Niks is te moeilik vir God nie. “Here, leer ons om te bid, en laat dit gebed in die Heilige Gees wees.”

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.