ONBESKROOMD LIEFHÊ SOOS JESUS

Gary Wilkerson

Wanneer ons ons leefstyle beskou as Jesus volgelinge, moet dit inpas by die Nuwe Testament model. Christus het sy twaalf dissipels uitgestuur om die goeie nuus te verkondig, die siekes te genees, en gewillig werktuie te wees om sy koninkryk op aarde te vestig (sien Markus 16:15-18). Later, het Hy sewentig dissipels met dieselfde opdragte uitgestuur (sien Lukas 10:1-16). Hy het aan al hierdie groepe gesê, “Alles wat Ek julle geleer het – die evangelie te verkondig, die siekes te genees en my koninkryk te laat kom – moet julle in my Naam doen. Nou, gaan na die hele wêreld en doen soos Ek julle beveel het.”

Dit is die Nuwe Testament model. Maar die gaping tussen dit en die manier waarop ons ons geloof uitlewe, verskil hemelsbreed. Aan die een kant is God se wonderwerkende krag, en aan die ander kant is ons leefstyl. Wat weerhou ons daarvan om die werke van Jesus te doen? Ek glo dit is dit: ons het ‘n doping van sy liefde nodig.

Een hindernis, meer as enige ander, verhoed ons om onbeskroomd lief te hê soos Jesus. Hierdie hindernis is vrees! Wanneer ons daaraan dink om die werk van Jesus te doen, word ons bang vir mense, wat hulle mag dink, en om te misluk. Die apostel Johannes spreek dit direk aan: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie” (1 Johannes 4:18).

Paulus som die gawes op wat kom wanneer ons vry is van vrees: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:7). Niks binne ons menslike vermoë kan ons vul met ‘n gees van krag en liefde en selfbeheersing nie. Dit is die gawes van God, en Hy gee dit vir almal wat vra. Wanneer Hy ons verlos van vrees, is ons in staat om mense met sy liefde lief te hê en hulle diepste behoeftes aan te spreek. Sy liefde verander alles!