PLAAS DIE SAAK IN GOD SE HANDE

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het gesê, “En wie sy kruis nie neem en My nie volg nie, is My nie waardig nie” (Matthéüs 10:38). En ook, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matthéüs 16:24). Paulus het ook gesê, “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Galásiërs 6:14).

Talle gelowiges stry lank en hard om gehoorsaam aan die Here te wees, en streef ernstig om ‘n heilige lewe te leef en rein te wees. Hulle mag by ‘n plek van nietigheid uitkom – daardie plek waar niemand op hierdie aarde kan help nie – en hulle weet dat tensy die Here kom en hulle verander, kan dit nie gedoen word nie.

Dit is goed om te verstaan dat Jesus self God in die vlees was, tog het Hy die Vader se leiding nodig gehad.

“Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen ... Ek kan uit Myself niks doen nie” (Johannes 5:19-20,30).

As Jesus hulp en leiding nodig gehad het met elke stap, hoeveel te meer is ons hulpeloos sonder dieselfde liefde en leiding van die Vader? Jesus het gesê ons Vader het ons lief en daarom, het Hy vir ons “alles wat Hy self doen” gewys. As ons in Christus is, en sy Vader ons Vader is, dan word ons ook innig liefgehê. Dit is in hierdie tye van verlate voel wat ons heeltemal van Hom afhanklik word.

Gee jou wil oor en hou op om te stry en te streef. Plaas die saak volkome in God se hande – Hy sal oorneem. Sy Gees sal jou uit die dood uithaal en jou opwek in die nuwigheid van die lewe. Die waarheid is die een hoop vir diegene van julle wat moed verloor het in jou stryd om in gehoorsaamheid te lewe.