ROEP UIT MET GELOOF

Gary Wilkerson

Wanneer God se teenwoordigheid in ‘n mens se lewe ontbreek, is dinge buite orde omdat daar geen wet, leiding of regverdige onderwysing is om te dien as riglyne om te leef nie. Elkeen maak sy eie wette en doen sy eie ding. Daar is geen rus of vrede nie want almal doen dit wat hy of sy ook al wil. Sulke wanorde bedroef die Here diep, maar dit hoef nie so te wees nie. Die teenwoordigheid van God bring orde en sy beloftes is onveranderlik. God se Woord belowe, “As jy My soek, sal Ek met jou wees. Wanneer jy uitroep, sal Ek deur jou gevind word.”

Ons lees van Koning Asa, wat God se volk tot ‘n bonatuurlike oorwinning oor die Kusiete (Etiopië) se miljoen-manskap leër gelei het. Daarna het hy getuig dat dit God se teenwoordigheid was wat die vyand laat spaander het: “HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom.... En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug” (2 Kronieke 14:11-12).

Toe Asa sy triomfantlike leër teruggelei het na Jerusalem, het die profeet Asárja hom by die stad se poort tegemoet gegaan met hierdie boodskap: “Luister na my, Asa... Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (15:2).

Dit is nie een of ander ingewikkelde teologie nie. Trouens, enigeen kan die blywende teenwoordigheid van God hê as hy of sy bloot met geloof sal uitroep. God het vir Asa die geheim vertel van hoe om die teenwoordigheid van God in sy lewe te vind en te handhaaf en Hy wil dieselfde vir jou doen. Die Here is genadig en sy liefde is konstant. Met Hom kan jy deur enige vuur gaan – en jy sal nie net oorleef nie, maar jy sal bewaar en beskerm word deur dit alles heen.