WORD JY DEUR VREES OORWELDIG?

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer ons vrees oorweldigend word, moet ons onsself herinner aan hoe groot ons God is. Ons moet onthou van al sy groot verlossings vir diegene wat op Hom vertrou het, en dieselfde majestieuse krag vir ons huidige beproewing opeis. Vrees kan nie ‘n vashouplek kry op enige dienaar wat ‘n visie van God se grootheid en majesteit het nie.

Nehemía het dit baie goed verstaan. Hy het rusteloos heen en weer gestap omdat Jerusalem omring was met ‘n aggresiewe koalisie van nasies, gereed om aan te val. ‘n Afgematte oorblyfsel het onverpoosd gewerk om Jerusalem se mure te herstel teen hierdie teëstanders. Hulle moes met ‘n hamer in die een hand en ‘n swaard in die ander hand swoeg. Soos die ure verbygegaan het, het vrees begin posvat.

Hoe was hulle in staat om weerstand te bied teen toegee aan vrees? Nehemía het hulle herhinner aan hoe groot en wonderbaar hulle God is. “Ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg” (Nehemía 4:14).

Dit is presies hoe Moses met Israel se vrees afgereken het. Hy het die mense beveel, “As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? – wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het...Skrik nie vir hulle nie, want die HERE jou God is by jou, ‘n groot en gedugte God” (Deuteronómium 7:17-18,21).

Moses het in wese gesê, “Julle gaan te staan kom teen baie groot vyande wat magtiger is as julle. Julle gaan wonder hoe julle ooit oorwinning gaan kry wanneer dit lyk of julle kanse maar skraal is, maar julle moet die ontsagwekkende krag van julle God onthou. Herinner julleself hoe getrou Hy was om julle te verlos in die verlede.”

“Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het” (Deuteronómium 10:21). As jou geloof geskud word, herinner jouself aan hoe magtig jou God is. Dink aan sy vele verlossings in jou lewe en jy sal agterkom dat enige greep van vrees gebreek word deur ‘n visioen van sy majesteit.