MET VREES OPTREE

David Wilkerson (1931-2011)

“[Jesus] het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58). Ongeloof verhinder altyd die volheid van God se openbaring en seën en die Skrif maak dit duidelik dat God dit nie ligtelik opneem nie. Hy gee vir ons ‘n voorbeeld hiervan in die storie van Koning Asa, ‘n regverdige koning en afstammeling van Dawid wat oor Juda geheers het (lees die verhaal in 2 Kronieke 14 tot 16).

Tydens Koning Asa se heerskappy, het hy afgodery uitgewis en herlewing na die land gebring. Toe, terwyl die volk God se seën geniet het, het ‘n groot leër uit Etiopië Juda binnegeval, en veroorsaak dat Asa hom na die Here gewend het met gebed en uitgeroep om hulp. Juda het ‘n geweldige oorwinning behaal in een van die grootste wonderwerke van geloof in die geskiedenis van God se volk. Na die oorlog, het ‘n profeet na Asa gekom, en eerder as hom geluk te wens oor die groot oorwinning, het hy ‘n waarskuwing uitgereik: “Koning Asa, so lank as wat jy op die Here steun en Hom volkome vertrou, sal jy geseënd wees. Jy sal oorwinning op oorwinning behaal en die Here sal met jou wees. Maar as jy van Hom af wegdraai en op jou vlees vertrou, sal chaos en wanorde jou volg.”

Koning Asa het getrou met die Here gewandel en Juda was baie geseënd deur God, net soos die profeet gesê het. Maar toe het nog ‘n krisis opgeduik en Juda was weer aangeval. Die vyand het ‘n dorp ingeneem net vyf myl van Jerusalem, Juda se hoofstad, en die lewensbelangrike handelsroete na die stad afgesny, wat kon veroorsaak dat Juda se hele ekonomie in duie stort.

Hierdie keer, het Koning Asa paniekbevange geraak en in plaas van om die Here te vertrou, het hy hom gewend tot ‘n vyand, die koning van Sirië, vir hulp. Dit is ongelooflik, Asa het Juda se skatkis gestroop van al sy rykdom en dit aan die Siriërs gegee om Juda te verlos – ‘n daad van absolute ongeloof. God het sy plan om Juda te verlos in werking gestel, maar Asa het dit geaborteer deur met vrees op te tree. Omdat Asa nie die Here vertrou het nie, het Juda van toe af oorloë gehad.

Om met ongeloof op te tree, bring onrus en verwarring – sonder uitsondering. Maar om God se Woord te vertrou, stel jou in staat om stewig te staan in die aangesig van enige uitdaging en God die oorwinning te laat bring.