SLUIT JOU DEUR

David Wilkerson (1931-2011)

Te midde van ‘n tyd van onbestendigheid en opstote, hoe gaan God se kinders reageer? As jy Jesus Christus as jou Here en Verlosser bely, hoef jy nooit te vrees nie. Diegene wat in Christus is, word vir ewig beskerm deur die bloed wat Jesus vir hulle gestort het en hierdie waarheid is die hoeksteen van ons geloof. Dit sal alles wat ons dink en wat ons doen bepaal ongeag wat rondom ons aangaan.

Paulus het die gelowiges in Rome verseker, “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Romeine 5:8-9).

Wat moet God se kinders doen wanneer die wêreld deur slegte nuus verswelg word? Wanneer markte styg en val en die wêreld verlam word van vrees? God gee aan sy kinders ‘n skuilplek: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan” (Jesaja 26:20).

As jy benoud is – oorweldig, neerslagtig van ellende en bekommerd is oor die toekoms – sê God daar is ‘n plek van troos waar ons kalmte vir ons siele vind. Hierdie geheime wegkruipplek is ‘n kamer in jou gedagtes wat Jesaja op hierdie manier beskryf: “U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3).

Wanneer die Here vir ons sê: “Sluit jou deur,” wys Hy vir ons dat ons die talle ontstellende stemme in ons koppe moet uitsluit. Ons moet die deur toemaak op alle gedagtes oor môre en oor wêreldgebeure. Die Here wat ons getrou sover deurgedra het, sal ons nie teleurstel in die komende dae nie.

Prys God! Hy is ons skuilplek in krisistye en sy getroue beloftes is die skild wat ons beskerm. Hou daaraan vas!