DIE VERGEWENDE LIEFDE VAN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Talle Christene vertel vir ander met blydskap van die liefde van Jesus en sy krag om hulle sonde te vergewe, en tog vind hulle dit moeilik om diesefde vergifnis te aanvaar. Hulle doen sonde en dan lyk dit asof hulle wil betaal vir hulle mislukking. “Here,” redeneer die Christen, “Ek het die veroordeling van die Heilige Gees afgeskud en koppig voortgegaan en sonde gedoen.”

Die vyand van ons siele is glad nie daarin geïnteresseerd om Christene te verander in moordenaars, owerspelers, verslaafdes en diewe nie. Hy is slegs geïnteresseerd in een ding – om Christene te verander in ongelowiges. Hy plant vrae in jou gedagtes wat lei tot twyfel. Is God ‘n verlosser? Is sy beloftes waar? Is daar vryheid van sonde? Verhoor Hy werklik gebed vandag? Sal Hy ons triomferend uit die stryd bring? Sal blydskap geween volg?

Satan se enigste doel vir Job was om hom God te laat vloek! Net so, wil hy hê jy moet dink God is nie getrou nie en dat Hy nie omgee oor jou behoeftes en gevoelens nie, wat natuurlik heeltemal die teenoorgestelde van die waarheid is.

Die aanklaer wil hê jy moet moed verloor maar God wil hê dat jy die vergewende stroom van sy liefde ontvang. Hy sal altyd ‘n opregte gebed verhoor: “Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:13). God trek nooit terug nie – maar die mens wel. Moet daarom nooit God se vergewensgesindheid teenoor jou beperk nie! Dit is sy natuur. Dawid het gesê, “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5).

Die doel van elke gelowige is om “nie te sondig nie” maar wanneer ‘n Godvresende kind sondig, is daar antwoorde in God se Woord: “As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1).

As jy skuldig voel, lê dit neer. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Maak jou hart oop en laat God se liefde in. As jy berou het, vergewe Hy oor en oor en oor!