DIE BREEKPUNT

David Wilkerson (1931-2011)

Toenemende getalle Christene is by breekpunt. Jongmense veral, gee oor aan mislukking. Hulle voel hulle kan nie die beeld van ‘n gelukkige, ryk, suksesvol, altyd-positief denkende Christen naleef nie. Hulle wêreld is nie so idealisties nie. Hulle leef met ‘n intense groepsdruk, hartseer, uur-tot-uur krisisse en verskriklike familie probleme. Hulle vriende is verslaaf aan dwelms en te veel van hulle sterf aan selfmoord. Hulle kyk bang en bekommerd na die onseker toekoms; eensaamheid, vrees en depressie bekruip hulle daagliks.

Selfs hooggeagte predikers en welbekende persoonlikhede ly aan oomblikke van depressie en dieselfde swakhede wat jy vind in enige normale Christen – voel soms soos ‘n mislukking en wil opgee. Paulus het gepraat van “verdrukking wat oor ons ... gekom het ... dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (1 Korinthiërs 1:8).

Op daardie oomblik wanneer die mure lyk of hulle omval en die dak lyk of dit inval, wanneer alles lyk of dit in duie stort en sonde die oorhand wil kry, roep ‘n stem diep van binne af, “Loop weg van dit alles af. Jy hoef nie hiermee opgeskeep te sit nie.” Koning Dawid was oorweldig deur die boosheid in sy hart en het uitgeroep, “Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie! Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?” (Psalm 44:24-25).

Hoe kan jy leer om vas te byt en een dag op ‘n slag te lewe? Jy kan begin om al die kortpaaie en magiese geneesmiddels te vergeet. As ‘n Christen, hoef jy nie ‘n veronderstelde demoon van wanhoop uit te dryf nie; Satan sal altyd hier wees, misleidend, beskuldigend, en jou probeer beroof van jou geloof. Maar daar is twee wonderlike absolutes waarvan jy seker kan wees:

  • God het jou werklik lief!
  • Dit is jou geloof wat God die meeste behaag.

God wil so graag vertrou word. “Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:3). Jy mag dalk nie verstaan waarom God so ‘n lang tyd neem om vir jou in te gryp nie, maar jy kan seker wees van een ding. Hy sal sy Woord aan jou nakom.