GOD SE KOSBARE GEDAGTES

Gary Wilkerson

Die belangrikste ding wat ek ooit vir jou kan sê, is dat jou hemelse Vader jou liefhet! Dit is ‘n eenvoudige waarheid wat ek seker is jy al baie keer gehoor het, maar vir baie Christene is dit moeilik om te verstaan. As jy egter ooit ‘n impak vir Jesus wil maak, moet hierdie rotsvaste waarheid die middelpunt wees.

Jesus het vir sy dissipels gesê, “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (Johannes 16:7). Natuurlik is die Trooster die Heilige Gees, ons Helper, ons Advokaat.

Lewe in hierdie gebroke, vervalle wêreld bring verdrukking op ons pad en sommige daarvan kan folterend wees en kan ons gesondheid, ons kinders, ons einste oorlewing insluit. Om deur dit alles te kom, moet ons bewus wees van ons Vader se liefde, omdat dit die werklikheid is wat die Heilige Gees tot ons gedagtes sal bring wanneer ons ly tydens beproewing.

Dit lyk of Dawid die Trooster se teenwoordigheid geken het toe hy geskryf het, “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie” (Psalm 139:17). Nog ‘n vertaling lees, “Hoe kosbaar is gedagtes oor my waarmee U Uself bemoei.”

Die besef dat God aan ons dink, is verstommend. Dit is een ding om te weet die Here het ons lief; dit is net ‘n teologiese feit. Maar dit is ‘n ander saak om te weet Hy dink aan ons – trouens, Hy hou nooit op om aan ons te dink nie. Maar God sê vir ons deur Dawid se psalm, “Jy hoef nie daarna te streef om My sover te kry om aandag aan jou te gee nie. Ek is reeds gefokus op jou.”

Dawid sê dat God se gedagtes oor jou kosbaar is. Dit is liefdevol op ‘n wyse wat jy nooit ten volle kan begryp nie. Jy is dierbaar vir jou hemelse Vader en Hy hou van jou geselskap – en die planne wat Hy vir jou het is altyd vir jou eie beswil.