WAT HET DIE HART VAN ‘N KONING VERANDER?

David Wilkerson (1931-2011)

Almal van ons weet wat verdrukking is, daardie tye van bekommernis en spanning wat ons in die nagte wakker hou. Dit kan so pynlik en verlammend wees dat ons slaap verloor weens benoudheid en angs. God gebruik dit om sy doel in ons lewens te bereik. Dawid skryf, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Jy sal egter verbaas wees om te weet dat God verdrukkings kan gebruik om sondaars, sowel as heiliges te genees.

Manasse, die mees goddelose koning in Israel se geskiedenis, het van die Here af weggedwaal en sleg en moorddadig geword. Hierdie goddelose man het altare vir die heidense afgod, Baäl, opgerig, selfs in die Tempelhof. Hy het altare gebou om die son, maan en sterre te aanbid. Hy het sy eie kinders geoffer deur hulle in die vuurputte van demoniese afgode te gooi. Hy het die woorde van regverdige profete verag en, in plaas daarvan, die raad van fortuinvertellers opgesoek. Hy het heksery, dodebeswering en duiwelaanbidding gekondoneer. Hy was ‘n wrede, bloeddorstige tiran wat dit geniet het om onskuldiges te vermoor. Die Skrif sê Manasse het erger gesondig as al die heidene rondom Israel.

Wat het uiteindelik met hierdie goddelose koning gebeur? God het groot verdrukking oor hom gestuur deur die Assiriese leër. Die gevreesde Assiriërs het Jerusalem binnegeval en die volk gevange geneem, insluitend Manasse, wat hulle met kettings geboei het en sy liggaam met pynlike dorings toegedraai het.

Heel verassend, het Manasse gedurende hierdie tyd van verskriklike verdrukking homself verneder en begin bid: “Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig” (2 Kronieke 33:12). En hoe het God op Manasse se gebed gereageer? Hy was genadig en het die koning se roepstem gehoor. Hy het Manasse weer op sy troon geplaas en hy het ‘n vegter vir geregtigheid geword en die afgodsbeelde en altare wat hy in die land gebou het, afgebreek.

Soos ons sien in hierdie verhaal, kan God verdrukkings gebruik om sondaars sowel as heiliges te genees. ‘n Goeie les vir ons om te leer, is om nooit moed te verloor met iemand nie, maak nie saak hoe sleg of goddeloos die persoon is nie. God het sy maniere om selfs die ergste sondaar tot Hom te bring, so wees bemoedig om te volhard in gebed vir diegene wat verlossing nodig het.