VAN DIE BINNEKAMER NA DIE LEEUKUIL

David Wilkerson (1931-2011)

Die Bybel wys ‘n patroon in die lewe van al God se kinders. In herhaaldelike gevalle, wanneer God sy beloftes begin vervul, lyk dit of alles verkeerd loop.

Dink aan Daniël, ‘n aantreklike, begaafde jongman wat gekies was om in die koning se paleis te dien (sien Daniël 1:3-6). Hy het homself toegewy aan ‘n lewe van heiligheid en afsondering van die wêreld en was bevorder weens sy uitmuntendheid. “Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ’n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel” (Daniël 6:4). Maar onderduimse manne het jaloers geword en ‘n saamgesweer om Daniël te vernietig, wat daartoe gelei het dat hy in die leeukuil gegooi was. God het ingegryp en sy dienskneg verlos deur die bekke van die leeus toe te sluit!

Dink aan Sadrag, Mesag en Abednégo, drie uitsonderlike jongmanne wat gebring was na die koning se paleis, waar hulle leiers in die regering gemaak is. Toe die koning egter beveel het dat almal moes buig voor sy valse god, het hulle geweier en was dadelik geboei en in die vuuroond gegooi wat vir hulle voorberei was. Dit het gelyk of alles verlore was totdat die Seun van God verskyn het in die vuur en hulle verlos het!

En dink aan Elia. God het hom ‘n heerlike belofte gegee van ‘n geestelike ontwaking in die land, van ‘n uitstorting van oorvloedige reën en ‘n nuwe dag van oorwinning vir God se volk. Goddelose Agab en Isébel sou omvergewerp word en vrede sou oor die koninkryk heers. Maar Isébel het Elia se lewe bedreig, die profete van God was doodgemaak, en die land het in goddeloosheid en droogte gebly. Elia het alleen en verward gevoel voor die belofte vervul is. Lees hierdie verhaal in 1 Konings 18 en 19.

Moenie moedeloos word weens ongunstige, verwarrende omstandighede in jou lewe nie. ‘n Mens gaan nie van die binnekamer direk na een of ander bergtop oorwinning nie. Miskien sal jy in die leeukuil, of in die vuuroond, of in die vallei van verwarring moet ingaan. Maar moenie moed verloor nie! God is soewerein en die Herder lei steeds. Jou lyding en verwarring sal plek maak vir ‘n geloof wat nooit sal teleurstel nie – ‘n geloof wat getoets is, soos goud, in die vuur van teenspoed.