Skyn Helder vir Christus

Gary Wilkerson

“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:12-13).

Paulus se brief aan die Filippense is vol lof, bemoediging en seën. Hy is beïndruk met hulle wandel van gehoorsaamheid en hy komplimenteer hulle daaroor dat hulle so maklik is om mee oor die weg te kom. Hy loof hulle ook dat hulle standvastig en onwrikbaar is selfs as hy nie daar is om hulle te lei nie.

God is die een wat hierdie heiliges in staat stel om te werk en te wil – die woord wil beteken hier om te begeer, om ‘n passie voor te hê, om werklik iets na te streef. So God werk in hulle sodat hulle vrugbare lewens kan lei, en daarmee Hom behaag. Paulus gaan verder: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ’n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie” (2:14-16).

Hierdie gedeelte van die Skrif moedig die Filippense aan om aandag te gee wanneer hulle in die middel van uitdagings is. “Kyk na die groter prentjie! Moenie kerm en kla nie, want dit sal jou groei vertraag.” Selfs sommiges in die kerk leef nie soos hulle behoort nie. Hulle sing die gesange en sê die regte woorde maar hulle harte is nie werklik verander nie. Die Vader wil hê ons moet skyn soos sterre in die wêreld rondom ons.

Mag jy die voorbeeld van die Filippensiese kerk navolg en jou lewe leef op ‘n manier wat die heerlikheid van God uitstraal na diegene rondom jou. Vra die Heilige Gees om jou nader te trek sodat jy verteer word met Jesus en ‘n sterk getuienis handhaaf te midde van ‘n gekompromitteerde, goddelose geslag.