Jy Is Geliefd En Aanvaar

David Wilkerson (1931-2011)

Jeremia was ‘n bulderende profeet van die Ou Testament. Elke woord wat hy verkondig het, was soos ‘n swaard wat deur die vlees gesny het. Hy het politici en kerkleiers so kwaad gemaak dat hulle hom in die tronk gegooi het.

Maar heetlyd, het hierdie wenende profeet uitgesien na ‘n dag waarop God sy volk sou besoek en hulle harte sou verander. Jeremia het geweet God het Sy volk jammer gekry en hulle liefgehad met ‘n ewige liefde.

Soos voorspel in Jeremia 24, was Christus deur die Vader gestuur om die Nuwe Verbond te vervul. Hy het die ooreenkoms met Sy eie bloed geseël en dit in werking gestel die dag toe Hy gesterf het. Dit beteken God hanteer ons geslag nie soos Jeremia se geslag nie. Ons het ‘n nuwe verbond gebaseer op beter beloftes. Jeremia se boodskap van die Wet is nou vervul in die voltooide werk van Jesus Christus. En wat ‘n verskil tussen die gebulder van Jeremia en die genade van Jesus.

In ons Here se laaste uur, in die Tuin van Getsémané, het Jesus tot sy hemelse Vader gebid vir sy dissipels. Onthou, Petrus sou Hom verloën binne ure, Thomas sou in Hom twyfel, en al die dissipels sou Hom verlaat en terugkeer na hulle huise. Maar Jesus sou hulle nie veroordeel nie, soos ons sien in hierdie fantastiese gebed in Johannes 17.

“[Vader], U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar... Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang ... Hulle is nie van die wêreld nie... En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het... en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het..” (Johannes 17: 6, 8, 16, 22-23).

Ons sê, “Maar Jesus, sien U nie wat in Petrus se hart is nie? Hy gaan U verloën! En Thomas is vol vrees en bewing. Hoe kan U vir hulle bid om liefgehê te word as hulle so swak is?”

O, ja, hulle sonde het Jesus bedroef, maar die Nuwe Verbond was besig om ingelyf te word en dit sou vergifnis, barmhartigheid en genade insluit. “Ek sal hulle ongeregtighede vergewe; Ek sal aan hulle sondes nooit meer dink nie.” Jeremia, onder die Ou Verbond, het verkondig, “Julle sondes het Hom van julle afgesny,” maar Jesus het gesê, “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en sondig nie meer nie.”

Dinge is nou anders. Sonde word steeds deur God gehaat, maar ons het ‘n lewende Saligmaker, wat sit aan die regterhand van die Vader en steeds vir ons bid. Jesus probeer vir ons sê, “Julle hoef nie ‘n bulderende Jeremia te hê wat julle van sonde en die wêreld weghou nie. Julle hoef net My te aanvaar, julle te bekeer en tot My te nader. Geen veroordeling. Geen vrees nie. Wees net volkome lief vir My en jy sal al jou sondes laat staan.