Bewaar deur die Krag van God

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is ‘n opwindende Ou Testament storie wat die beste illustreer wat dit beteken om deur die krag van God bewaar teword. Ons kry dit in 1 Konings 6.

Bénhadad, Koning van Aram, het oorlog verklaar teen Israel en teen hom opgemars met ‘n groot leër. Soos sy magte vorentoe beweeg het, het hy dikwels sy krygsraad na sy private kwartiere geroep om die volgende dag se strategie te beplan. Maar die profeet Elisa, deur die Heilige Gees gelei, het aangehou om boodskappe vir die Koning van Israel te stuur wat elke beweging van die vyandige troepe in elke besonderheid geopenbaar het. Op verskeie geleenthede het die Israeliete nederlaag ontvlug as gevolg van Elisa se waarskuwings.

Bénhadad was woedend en hy het sy dienaars byeengeroep. “Wys my wie die verraaier is! Wie openbaar ons planne aan die Koning van Israel?” Een van sy dienaars het vir hom gesê, “Nee, my heer die koning, maar Elisa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek” (2 Konings 6:12).

Bénhadad het dadelik leërmagte gestuur om Elisa te vang. Hulle het in die nag na Dotan gegaan en die stad omsingel met die doel om die ou profeet te verras. Maar Elisa se dienskneg het vroeg wakker geword en gesien daar was “’n leër met perde en strydwaens rondom die stad.” Vreesbevange het hy na Elisa gehardloop en gevra wat hulle moes doen. Elisa het gesê, “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elisa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:16-17).

Elisa, soos die psalmis, kon staande bly te midde van ‘n krisis en met absolute sekerheid sê: “Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie” (Psalm 3:7).

Laat jou gebed dié van Elisa wees: “Here, open my oë dat ek die berge vol met die perde en waens van vuur kan sien – die Here van die leërskare!” Geliefde, daar is hoop! Die Here van die leërskare is met ons. Hy alleen is ons bewaarder. Hy sal nie sy kinders laat gly of val nie. Ons word in die palm van sy hand gehou. Wees verseker dat Hy jou sal bewaar, lei, en verkwik op ‘n nuwe manier vandag.

Tags