Laat die Stryd in God se Hande

David Wilkerson (1931-2011)

Die Here “wat die oorloë laat ophou” (Psalm 46:10). Watter welkome nuus aan die kind van God wat verpletter en verskeur is deur oorlogvoering. Die stryd in ons siel is sy stryd en net Hy alleen kan dit laat ophou. Ons liefdevolle Vader sal nie toelaat dat die vlees of die duiwel ons boelie totdat ons die aftog blaas nie.

Die Hebreeuse woord vir oorlog gebruik deur Dawid in Psalm 46:10 is milchamah, wat beteken, “om te voed op, verteer, verslind, vreet, oorwin.” Dit is afgelei van ‘n stamwoord wat kos of brood vir ‘n dier voorstel. Die gebruik hier is eintlik wonderlik en rede tot groot gejuig. Dit beteken God gaan die vyand keer om ons te verteer, om ons te verslind.

Die goeie nuus van die evangelie is dat ons ‘n God van absolute liefde dien – ‘n God van barmhartigheid wat begeer om Sy geliefdes te lei na ‘n plek weg van alle onrus. God se uiteindelike plan vir al sy kinders is oorvloedige lewe. Hy het nooit bedoel dat ons deur die lewe gaan gefokus op ons sondes en mislukkings nie. Maar ons kan nie ons plek inneem en saam met Christus in die hemel sit, todat ons onsself ten volle met sy dood en opstanding vereenselwig het nie.

Die Heilige Gees het binne-in ons ‘n wete geplaas dat ons nooit waarlik kan lewe totdat ons sterwe nie. Ons het ‘n afspraak met die dood, ‘n bestemming wat met die kruis van Christus verband hou. Kyk bietjie na waar jy is, met al jou vrese, leegheid, eensaamheid, mislukkings en kompromie. Jy skiet ver te kort aan wat jy weet ‘n seëvierende Christelike lewe moet wees. Tog weet jy God se Woord praat duidelik van oorwinning, van rus en vrede, van vryheid van sonde se heerskappy.

Nadat die Woord vir ons sê dat dit God is wat oorloë laat ophou, word daar die volgende bygevoeg: “Laat staan en weet dat Ek God is” (Psalm 46:11). Hoe terdeë konsekwent is die Woord van God! Hy laat oorloë ophou en totdat Hy sy werk voltooi het, moet ons ons eie pogings laat vaar en dit in sy hande los.

Hoe wonderlik om te weet dat ons ons toekoms en herstel in die hande van Christus ons Here en Verlosser kan toevertrou. “Wees stil” vandag en laat sy waarheid vrede in jou siel bring.