Die Natuurlike Byproduk van ‘n Veranderde Hart

Gary Wilkerson

“En daar het ’n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Lukas 10:25). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het Jesus gekonfronteer en sy gesag uitgedaag op vele geleenthede maar nou het ‘n wetgeleerde hom genader, miskien iemand wat deur hulle gestuur was. Wetgeleerdes is goed opgelei in die kuns van debatvoering en ongetwyfeld was hierdie een goed opgelei in die wette van die Ou Verbond. Hy het waarskynlik verwag dat Jesus sommige van die reëls sou begin opsê insake die Sabbat, die was van hande, rein en onrein voedsel. So baie reëls! En watter een lei tot die ewige lewe?

Jesus het die wetgeleerde se vraag beantwoord met ‘n vraag: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (10:26). En die wetgeleerde het geantwoord, “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself” (10:27). Jesus het hom geantwoord, “Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe” (10:28).

Met daardie eenvoudige woorde, het Jesus die las van al die reëls en regulasies afgeskaf en die mees verfrissende, wêreldveranderende, lewensveranderende boodskap gebring wat mens ooit kon hoor.

Jesus het die belangrikste ding eerste genoem: wees lief vir God met jou hele hart, siel en verstand. En nadat jy in ‘n verhouding met Hom gekom het, sal Hy jou ‘n nuwe hart gee, ‘n hart wat deernis kan hê met ander. “Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee” (Eségiël 36:26). ‘n Hart van vriendelikheid en besorgdheid oor ander.

Jy kan nooit jou naaste liefhê soos wat Jesus ons liefhet nie, maar liefde vir ander is ‘n natuurlike byproduk van ‘n veranderde hart. Wanneer Hy jou verander, kan jy saam met die psalmdigter sê, “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:8).

Tags