Dra Vrug Wat Bly

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het gesê, “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra...As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15:1-2,6).

Ware dissipels van Jesus Christus kan nie hierdie groot verantwoordelikheid van vrug dra ignoreer nie. God waak met groot sorg oor sy wynstok en al die lote wat daarop ingeënt is. Hy staan daar langsaan met ‘n snoeiskêr in sy hand en kyk liefdevol vir die geringste teken van besoedeling, skimmel, roes of siekte wat groei kan belemmer. God verwag dat elke loot vrug dra; trouens, dit is onmoontlik om God te eer en verheerlik – of ‘n ware dissipels te wees – sonder vrug. Jesus het gesê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (Johannes 15:8).

Om vrug te dra, gaan alles daaroor om God te behaag – om meer soos Hy te word. Vrug dra verheerlik die Vader deur wat ons word eerder as bloot deur dit wat ons doen. Die Bybel maak dit baie duidelik dat talle gelowiges wonderlike resultate sal hê – duiwels uitdryf, die siekes genees, groot wonders doen in sy Naam – maar God weet as daar ‘n droogheid van gees is.

‘n Blywende gelowige is een wat God liefhet en vrees, wat sy regverdige oordele vrees en wat honger na die Woord. Hy verbly hom daarin dat die Woord alle struikelblokke afsny en toelaat dat die ware lewe en gelykenis van Christus altyd in hom toeneem. Dit  is onmoontlik om die vrug van geregtigheid te dra sonder sy Woord wat in jou bly!

Hoe meer jy toelaat dat Christus in jou geopenbaar word, hoe meer sal sy lewe almal aanraak wat met jou in verbinding is. Die Woord sê, “Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat hulle vrug kan bly” (Johannes 15:16). Mag jy bly in die stroom van Christus se lewe en verder gaan om baie vrug te dra wat Hom sal verheerlik.