Deur die Genade van God Alleen

Gary Wilkerson

“Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus” (Efésiërs 2:4-7). 

Paulus het aan die Efésiërs geskryf vanuit ‘n tronk in Rome. Die jong Timótheüs het ‘n herder geword van die kerk by Éfese wat eksponensieel gegroei het en oorvloedige seëninge geniet het. Die kerk was gretig om te hoor wat Paulus vir hulle te sê gehad het. Hy begin die brief deur te praat oor die heerlikheid en majesteit van Christus en om hulle te herinner waarvandaan hulle gekom het. Hulle was dood in hulle oortredinge en was nou lewend gemaak en laat sit in die hemelse plekke in Christus. Nie net was hulle sondes skoon gewas nie, maar hulle het in ‘n koninkryk beweeg wat die heerlikheid van enigiets wat hulle al ooit beleef het, oortref het. Alles net omdat hulle gered was uit genade deur geloof!

“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (2:10). God se teenwoordigheid sal vir jou allerhande geleenthede skep wat nie uit ou eie werke gebore is nie. Hy beplan iets vir jou waarin jy kan instap. Nie net red Hy jou en gee jou geloof nie, maar Hy roep jou en gee jou ‘n lewe van heerlikheid, krag en genade!

Christus haal nie bloot die kwaad uit jou uit nie; Hy plaas die hele koninkryk van die heerlikheid van Christus Jesus in jou. Sy bloed was jou nie net van sonde nie, maar dit begin aan jou lewe toegereken word sodat die geregtigheid van God in Christus in jou woon. As gevolg hiervan, kan jy in oorwinning lewe met jou kop omhoog.

Tags