Oorvloedig in Die Hoop

David Wilkerson (1931-2011)

Ons dien ‘n God van hoop! Die Griekse woord vir “hoop”, is elpo, wat beteken “om met behaaglike vertroue en verwagting uit te sien.” Die Apostel Paulus het vir die Romeine geskryf, “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Romeine 15:13).

Paulus het ‘n wonderlike idee bekendgestel – “dat julle oorvloedig kan wees in die hoop.” Hy bedoel dat jy meer as genoeg hoop sal hê; ‘n bron wat oorloop, oormatig en sonder perke is.” Vir almal wat in ‘n toestand van wanhoop verkeer, mag dink dit klink na ‘n gruwelike grap. Maar geliefde, God se Woord is waar! Hy is ‘n God van hoop, ‘n hoop wat sonder perke is. Paulus se gebed vir die kinders van God was dat hulle “vervul [sou word] met alle blydskap en vrede deur die geloof.”

Dit behoort ‘n normale toestand vir alle Christene wees, nie net vir goedaangepaste, gelukkige gelowiges nie. God terg nie Sy lydende kinders vandag nie; Hy is werklik ‘n God van hoop. Paulus het gesê, “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:24-25). Ten spyte van hierdie belofte, reageer ons dikwels deur daarop aan te dring om ‘n verandering in ons situasie te beleef: “Wel, ek kon hoop gehad het as ek net ‘n klein veranderinkie kon sien, ‘n klein bewys dat God aan die werk is. Hoe kan ek hoop hê wanneer maande verbygaan en dinge net erger word?”

“Om oorvloedig te wees in die hoop” beteken ook om baie geduld te hê – meer as genoeg geduld om “daarvoor te wag.” Jy sien, die blydskap en vrede kom wanneer jy weet God het alles onder beheer.

Christus sal jou hopeloosheid in gejubel verander en jou met blydskap beklee as jy jou geloof aan Hom beskikbaar sal stel. “U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord” (Psalm 30:12). Juig in die God van hoop – en lééf!

Tags