Wie Sal Ons Red?

Carter Conlon

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Die Here roep ons na die troon van genade, nie net wanneer ons voel ons het alles onder beheer nie, maar wanneer ons onsself in ‘n tyd van nood bevind. Hy roep ons nie in hierdie uur omdat ons sterk is nie, maar omdat Hy weet dat ons Hom nodig het, en omdat Hy begeer dat ons die werk, wat Hy ons uitgestuur het om te doen in hierdie geslag, sal afhandel.

‘n Onlangse tydskrifartikel oor die ellendes wat die wêreld tans beleef, het die volgende opskrif gehad: WIE SAL ONS RED? Mense in ons samelewing begin besef dat ons ‘n storm van ongekende afmetings beleef, en ‘n roepstem om hulp begin opgaan.

Wanneer ‘n mens begin praat van terugkeer na gebed en die werk van God, mag jy argumente van die vyand teëkom. Miskien sal selfs die broosheid van jou eie hart jou teëstaan om jou moedeloos te maak: “Jou tyd is verby. God het jou voorheen geroep, maar jy het weggeloop en nou is dit te laat.” Moenie na daardie stemme luister nie!

Jy en ek moet opgewek word vir die uur waarin ons lewe – en lewend word vir die krag van God. As ons kies om God se heerlikheid deur ons te laat manifesteer, kan ons lewe baie tel in die dae wat oorbly. Die dae wat voorlê sal inderdaad donker wees, maar onthou dat ons bestemming ‘n stad op ‘n berg is wat nie weggesteek kan word nie. Daar is geen veiliger plek om te wees as in die hande van God nie.

God is goed en sy barmhartigheid duur vir ewig. Dit maak nie saak waar jy vandag is nie, dit maak nie saak hoe hulpeloos en hopeloos jy voel nie, roep God aan. Wanneer ons die Here aanroep, word ons lewens en getuienisse herstel, en as gevolg daarvan, sal baie ander die genade van God in Jesus Christus vind.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.