Nooi Die Heilige Gees In Jou Lewe In

Jim Cymbala

Jesus het gesê, “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8).

Die Heilige Gees is God se agent op aarde, maar Hy word die minste verstaan, word die minste oor gepreek en is die lid van die Drie-eenheid wat die minste bespreek word. En dit is jammer want sonder Hom, sal ons geestelike lewens ‘n droë, meganiese stryd word. Daar is niks wat jou gebedslewe, jou studie van God se Woord en jou ervaring tydens aanbidding in die kerk meer sal verander nie as om die Gees uit te nooi om op ‘n nuwe manier by jou aan te sluit.

Voorbeelde van die Heilige Gees se werk verskyn dikwels in verhale van die vroeë kerk. Ongelukkig, het baie van ons gewoond geraak om sonder die Heilige Gees in ons lewens en kerke klaar te kom. Beskou hierdie eerlike vrae:

  • Hoeveel Christene ly weens ‘n geestelike lewe wat droog en meganies is?
  • Hoeveel mense dien ‘n Jesus wat hulle ken uit die Bybel, maar nie ‘n lewende werklikheid in hulle belewenisse is nie?
  • Wonder ons ooit waarom die Heilige-Gees-ingrypings so skaars is in ons gemeentes?
  • Loop ons die wonderlike seëninge wat beplan is vir ons lewens mis omdat ons nie behoorlik bekend is met die persoon en werk van God die Heilige Gees nie?

Daar is slegs een ding wat kragtiger is as om die Gees te sien werk in iemand anders se lewe, en dit is om Hom te sien werk in jou eie lewe. As jy krag, vertroue, blydskap, vrede en meer liefde in jou lewe wil hê, vra die Heilige Gees om te kom en iets nuuts in jou te doen.

Alles wat ons lees oor die kerk in die Nuwe Testament sentreer rondom die krag van die Heilige Gees wat in die harte van Christelike gelowiges werk. Hulle het in Christus se woord geglo, hulle het verwag dat die Gees groot dinge sou doen, en Hy het gedoen soos Hy belowe het. En die goeie nuus is: Hy sal dieselfde vir jou doen vandag!

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.