Die Kenmerke van ‘n Volmaakte Hart

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is moontlik om met ‘n volmaakte hart voor die Here te wandel. Die Here het vir Abraham gesê, “Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg [volmaak] wees” (Génesis 17:1).

Dawid was vasbeslote in sy hart om hierdie gebod te gehoorsaam en het gesê, “Ek wil ag gee op regskape wandel... Ek wandel in die opregtheid [volmaaktheid] van my hart, binne-in my huis” (Psalm 101:2).

Ons sien die Here se gebod om volmaak te wees ook in die Nuwe Testament toe Jesus het gesê, “Wees julle dan volmaak soos wat julle hemelse Vader volmaak is” (Matthéüs 5:48).

Volmaaktheid beteken nie ‘n sondelose, onberispelike hart nie. Daar was immers van Dawid gesê dat hy ‘n volmaakte hart teenoor God gehad het, alhoewel hy die Here dikwels teleurgestel het. Sy lys van sondes het owerspel en moord ingesluit.

Die basiese definisie van volmaak is: volledigheid, volwassenheid. In die Hebreeus en Grieks, sluit die definisie opregtheid, om vlekkeloos te wees en totale gehoorsaamheid in. Dit beteken ook om af te handel waarmee begin is: ‘n voltooide werk.

Die volmaakte hart is ‘n responsiewe hart. Dit antwoord vinnig en volkome op die Here se bearbeiding, fluistering en waarskuwings. Hierdie hart sê te alle tye, “Spreek, Here, want u dienaar luister. Wys my die pad en ek sal daarin wandel.” Christus verbind Homself aan diegene wat voor Hom wandel met ‘n responsiewe, luisterende hart.

Die volmaakte hart wil ook hê die Heilige Gees moet kom en in die verborge dele skyn; om alles wat nie soos Christus is nie, te openbaar. Hierdie hart roep saam met Dawid uit, “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23-24).

As jy heerlike gemeenskap met Hom het, sal Hy jou voortdurend gereed maak om in sy heilige teenwoordigheid te kom as ‘n skoon, rein erdekruik – en in jou ‘n volmaakte hart skep.