Vasbeslote om God te Vertrou

Gary Wilkerson

“Nou weet ek dat die HERE sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand. Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God. Húlle het inmekaargesak en geval, maar óns het opgestaan en ons weer opgerig” (Psalm 20:7-9).

Volkome vertroue in die Here kan jou lewe verander! Dit verg geloof om te glo dat God altyd om jou onthalwe aan die werk is. Maar, die Woord sê selfs die duiwels glo (sien Jakobus 2:19) maar hulle geloof is blote verstandelike instemming, nie ‘n ware reddende geloof nie. Satan en sy onderdane is meer bewus van God se werklikheid as die meeste mense, maar die demone is sekerlik nie gered nie. Die soort geloof wat ons red, is die soort wat ons verander.

Hoewel ons saam met die Here wandel, kan ons baie vrae hê; ons kan selfs twyfel. Waarom laat God lyding toe? Waarom gebeur slegte dinge met goeie families? Waarom lyk dit asof dit so lank vat vir God om ons gebede te verhoor? God verlang daarna om ‘n dieper werk in ons te doen. Hy wil ons verder neem as net ‘n stel gelowe (tradisies, leerstellige sake) en ons harte vul met ‘n volkome en totale vertroue in Hom.

Wanneer ons versoek word om te twyfel, kan ons sê, “Kom my ongeloof te hulp, Here. Maar, totdat my geloof vol word, kies ek om U te vertrou.” Ons kan dalk soms twyfel in sekere dinge, maar die Here reken daarmee af. Hy openbaar die waarheid, wys die weg en bevestig die waarheid. Te midde van ons stryd, tydens ons grootste vertwyfeling, plaas God iets in ons harte. Hy laat ons weet dat Hy heeltyd goed en altyd vertrouenswaardig is. Ons kan op sy heiligheid, sy heerlikheid, sy grootsheid, sy majesteit en sy liefde vertrou.

Ek dring by jou aan dat jy jou saak aangaande vertroue vandag uitklaar. Jou geloof mag geskud word, maar jou Rots is steeds daar. Sê vir jou Vader, “God, maak nie saak wat kom nie, ek is vasbeslote om op U te vertrou.”