God se Geskiedenis van Goedertierenheid

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeet Jesaja het dikwels gepreek oor God se wraak teen sonde. Hy het gepraat van die dag van toorn en wanhoop wat kom oor diegene wat in opstand leef, maar te midde van sy mees skrikwekkende boodskappe oor die Here se dag van toorn, het Jesaja gestop en uitgeroep, “Ek sal die goedertierenhede van die Here prys ... na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede” (Jesaja 63:7).

Te midde van al die sonde, afvalligheid en rebellie in Israel, het Jesaja diep in sy eie hart gekyk en ‘n openbaring onthou van hoe God werklik is. Hy het in wese uitgeroep, “Here, wees ons genadig en red ons weer. Ons het teen U gerebelleer en u Heilige Gees bedroef, maar U is waarlik vol goedertierenheid.”

God se goedertierenheid is een aspek van die Here se karakter waarvan baie Christene min kennis dra. Toe Dawid teruggekyk het na God se vorige handelinge met sy geliefde kinders, sê hy vir ons dat dit moontlik is om die goedertierenheid van die Here te verstaan. Die sleutel om hierdie aspek van God se karakter te kan verstaan, was eenvoudig en ongekompliseerd – God het sy barmhartigheid gegee omdat die volk die Here aangeroep het. “Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag. Toe het hulle die HERE aangeroep” (Psalm 107:5-6). Toe God se kinders van Hom afvallig geword het en verlore was omdat hulle gesondig het, het hulle Hom aangeroep en “Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak” (Psalm 107:20).

Weereens, toe God se volk raadop was, wat het hulle gedoen? “Toe het hulle die HERE aangeroep in hulle benoudheid” (107:28) en Hy het hulle uit hulle benoudheid gelei en die stormagtige see stil gemaak.

Die Here het Dawid geleer dat hy na sy geskiedenis van handelinge met die kinders van Israel kon kyk en sy natuur ontdek. Hierdie les geld vir ons vandag. “Wie wys is, laat hom op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenheid van die HERE” (Psalm 107:43).

Jy het ‘n liefdevolle, teer Vader wat omgee oor jou. Hy het al jou trane opgevang; Hy sien elke behoefte; Hy ken al jou gedagtes – en Hy het jou lief!