Luister na die Waarskuwing

David Wilkerson (1931-2011)

“Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog ... Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie” (Jeremia 6:13,15).

Die profeet Jeremia het ‘n verskriklike toestand oor God se volk gesien kom. Hulle het hulle sondes weggesteek agter ‘n fasade van oppervlakkige vrede en veiligheid. Gierigheid het hulle harte oorwin en hulle hele lewens het oppervlakkig geword – oppervlakkige trane, oppervlakkige bekering, selfs oppervlakkige genesing. Die ergste van alles was dat hulle hul gevoel van hartseer oor sonde verloor het – in die samelewing, in die kerk, in hulle eie lewens. Sonde het “nog net een van daardie dinge” geword.

In Jeremia 5:1-3, gee die profeet ons ‘n beeld van die sedelike verval wat in Israel en in die huis van Juda plaasgevind het. God se volk het ‘n boodskap van vreesaanjaende waarheid gehoor en tog het hulle daarvan af weggedraai en daarteen in opstand gekom. Hulle vrees vir God het afgeneem en waar hulle hul eens verheug het in God se Woord, het hulle nou die waarskuwing van die profete, die wagte, weggewys.

God plaas wagte oor die kerk vandag; gesalfde stemme wat deur die Here daar geplaas is om verantwoordelik te wees vir jou siel. As ‘n gelowige, is dit jou verantwoordelikheid om te luister na God se Woord en gehoorsaam te wees sodat jy in die ware beeld van Christus verander kan word. Dit beteken om volgens die waarheid te wandel, sonder kompromie.

Wanneer God iets werkliks in sy kinders doen, konkel Satan altyd daarteen. Toe Nehemia die mure van Jerusalem wou herbou, was daar groot teëstand. “Maar toe [die vyand] hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder ... het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal met mekaar ’n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig” (Nehemia 4:7-8). Net so, wanneer ‘n individu hom tot God wend en ‘n ware vernuwing in sy lewe het, sal Satan met al sy mag baklei om sy vordering te keer. Stel jou hart daarop in op te luister na die wagte en laat die Heilige Gees toe om jou hart diep binne te dring sodat jy volkome onberispelik kan lewe voor die Here in hierdie laat uur.