‘n Konstante Metgesel

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-14).

‘n Unieke eienskap van die Heilige Gees is dat Hy nie daarvan hou om oor Homself te praat nie. Hy wil nie hê ons moet Hom so goed ken as wat ons sy missie moet ken nie, wat is om Jesus vir ons te bring en ons in reinheid en heiligheid te hou. Hy is altyd aan die werk, maak Christus in ons harte bekend en verheug Hom in ons soeke na kennis oor waarom Hy gekom het.

Jesus het sy dissipels vir een laaste oomblik van gemeenskap bymekaar laat kom voor Hy sou opvaar. Dit was ‘n hartseer tyd vir hulle omdat hulle enigste bron van troos weggeneem sou word. Jesus was hulle Leidsman en Meester, hulle blydskap, vrede, hoop en liefde, maar nou sou Hy hulle fisies verlaat. Hulle het nie werklik die gawe, wat ná sy vertrek sou kom, verstaan nie.

Kan jy dink aan die vrae wat hulle gehad het? “Wie sal ons nou lei? Waarheen sal ons gaan vir die woorde van die ewige lewe? Hy het vir ons gesê om die hele wêreld in te gaan en die evangelie in sy Naam te verkondig, maar waar sal die krag vandaan kom? Hy is alles wat ons ooit geken het en ons het ons hele wêreld rondom Hom gebou!” Jesus het hulle gedagtes gelees. Hy het geweet wat hulle sou deurmaak: swaarkry, armoede, vervolging, selfs marteling om sy Naam se onthalwe. “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16). En Hy het hulle verseker, “Ek sal julle nie sonder troos laat nie; Ek sal na julle kom” (sien 14:18).

Dit lyk maklik om te glo dat die Heilige Gees na die wêreld gestuur is, maar moeiliker om te glo dat Hy na ons persoonlik gestuur is. As Jesus skielik langs jou sou verskyn, sal jy met Hom praat? Natuurlik sal jy! Net so, moet die Heilige Gees só persoonlik vir jou wees – jou Trooster, jou Leidsman, jou konstante metgesel!