Om God se Glorieryke Wil te Omhels

David Wilkerson (1931-2011)

Elke ware gelowige van Jesus Christus sê hy wil die wil van God doen, maar die meeste Christene dink aan God se wil as iets wat op hulle afgedwing word – iets onsmaaklik en moeilik wat hulle gedwing word om te doen. Hulle dink God eis dat hulle toegee aan ‘n moeilike stel reëls en voorwaardes: “Doen dit op my manier, of jy is op jou eie!” Hoe verkeerd is hulle tog.

As ‘n gelowige die heerlikheid ken om die Here se volmaakte wil te doen, omhels hy dit met blydskap en hoop. Om te omhels beteken “om vas te gryp, soos in jou arms” as ‘n uitdrukking van liefde en toegeneëntheid. God se wil is nie net vir bedienaars of diep geestelike heiliges nie, maar vir al sy kinders. Die Nuwe Testament vermaan ons, “[God maak] julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom” (Hebreërs 13:21). God begeer dat jy vandag deel word van sy plan en wil.

Die vroeë apostels het een begeerte gehad vir al die kerke – dat elke lid God se volmaakte wil vir hulle lewens ken en dit omhels. Paulus het geskryf van ‘n broer genaamd Épafras, “wat een van julle is, ‘n dienskneg van Christus ... stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kolossense 4:12). Épafras het geweet dat God ‘n volmaakte wil vir almal in die gemeente gehad het en hy het geweet dat as hulle dit sou doen, hulle blydskap sou vind en al hulle behoeftes vervul sou word.

Christus het vir Sy dissipels gesê: “Omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30). “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38).

Daar was nooit ‘n oomblik in Jesus se lewe waartydens Hy nie daarvan bewus was dat dit sy doel op aarde was om die wil van die Vader te doen nie. En dit behoort ook vir ons so te wees. Wanneer jy die wil van God omhels, gebeur iets verstommend – Jesus openbaar Homself aan jou op nuwe maniere!