Die Oes is Nou Gereed

Gary Wilkerson

Die apostel Paulus sê vir ons dat ons deur God geroep is om ‘n wedloop te hardloop. Petrus verwys ook na hierdie resies as hy vir ons sê om die lendene van ons verstand te omgord (sien 1 Petrus 1:13). Hy sê ons moet onsself voorberei vir die kompetisie deur ons geloof en vertroue in die Here te versterk.

Ons almal het ‘n hemelse roeping wat vooraf deur God bepaal is. Miskien het die Heilige Gees vir jou ‘n visie gegee van wat jou roeping is. Maar daar is waarskynlik ‘n groot gaping tussen jou hoë roeping en die vervulling daarvan. Soms laat daardie gaping jou moed verloor en dit is die rede waarom Paulus ons vermaan rakende die verstand – om ons te herinner aan ‘n sekere waarheid oor God.

God smag daarna om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is. Op hierdie oomblik mag dit lyk of jy gebrek ly. Maar God sê in wese dat jy méér kan doen as mense wat skynbaar alles het: “Jy mag dink jy het nie wat jy nodig het nie, maar jy het nie die wêreld se middele nodig nie. As jy My sal vertrou om my doel in jou lewe te bereik, sal jy dit vinniger sien gebeur as wat jy kan dink. Ek sal dit kragtiger, met meer gesag doen – en Ek sal verheerlik word deur jou lewe.”

God wil vir jou voorsien wat jy nie vir jouself kan voorsien nie. Trouens, Jesus sê vir ons die Vader wil graag ons oes verdubbel. In Johannes 4:35, het Jesus en sy dissipels naby ‘n paar graanlande verbygeloop. Hy het na die lande gewys en vir sy volgelinge gesê, “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’” (DB).

Jesus se les van die oeslande sê vir almal wat Hom sal volg: “Nou is die tyd!” Hy sê in wese, “Daar is geen gewag in my koninkryk nie, so moenie dat enige verskonings jou aandag aftrek nie. Nou is die tyd om My te volg en jou wedloop sonder huiwering te hardloop!”