Laat Spyt in die Verlede

Carter Conlon

Die geskrifte van die apostel Paulus wys baie duidelik daarop dat dit sy uitnemende begeerte in die lewe was om Jesus te ken. Hy wou ten volle oorgegee wees aan die lewende Christus van Wie hy nou bewus was, in sy aardse liggaam woning gemaak het. Hy het geskryf, “In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28).

Paulus was bewus van iets wat ons vandag weer moet ontdek: Ons is nie net geroep om bloot die kennis van God by ons geslag uit te bring nie; ons is geroep om ‘n sigbare uitdrukking te wees van wie God is deur Hom toe te laat om sy krag, wysheid, genade en liefde deur ons te demonstreer.

Paulus het ook ‘n stelling gemaak wat ons behoort te bemoedig wanneer ons ook al middelmatig voel in vergelyking met hulle van wie ons in die Bybel lees: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie” (Filippense 3:12). Hy het in wese gesê, “Ek is nog nie alles wat ek moet wees nie.” Paulus was nie – en ons is ook nie! Maar hy het verder iets baie bemoedigend gesê: “Maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is ... Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (3:12-14).

Met ander woorde, “God het ‘n plan vir my lewe en ek gaan vorentoe om dit wat Christus beplan het om deur my te doen, te vervul.” Een van die moeilikste dinge vir ons om agter te laat, is ons spyt. Ons is geneig om dit saam met ons deur die lewe te dra – daardie voortdurende gedagtes van, “As ek tog net dit gedoen het; as ek tog net so was; as ek tog net nie so selfsugtig was nie.” En die lys gaan aan en aan.

Paulus het baie redes gehad om met spyt te leef. Byvoorbeeld, hy sê, “Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het” (1 Korinthiërs 15:9). En in Handelinge 26:10-11 noem hy selfs nog meer van sy oortredinge. Maar hy het ‘n doelbewuste keuse gemaak om daardie dinge wat agter hom was te vergeet en vorentoe te gaan met Jesus! Net so, kan jy kies om al jou vorige mislukkings by die kruis neer te lê en van jou spyt af weg te loop. Hy het gesterf om vir jou ‘n nuwe verstand en ‘n nuwe hart te gee – ontvang dit deur geloof!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.