Veg vir Elke Sentimeter van Jou Hart

David Wilkerson (1931-2011)

Satan het sy woede teen die kerk van Jesus Christus gerig en hy het sy ergste toorn gereserveer vir gelowiges wat God se gebooie bewaar en Hom vertrou. Die duiwel weet dat hierdie stryd sy laaste kans is, want net ‘n kort tydjie bly oor voor Christus terugkeer vir sy Bruid: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Satan se doel is om God se kinders te versoek om teen God in opstand te kom, net soos hy met Adam en Eva gedoen het. So, hoe is dit op jou en my van toepassing? Satan is nie daarin geïnteresseerd om ons in ontaardes te verander nie. Al wat hy vir ons wil hê, is om net op een gebied te rebelleer, wat hom genoeg plek sal toelaat om ‘n houvas te kry. Hy het sy owerhede en magte op gereedheid geplaas om vir hom intelligensieverslae van ons te verskaf – hulle lees ons dade en hoor ons gesprekke. En wanneer hulle ‘n vleeslike swakheid raaksien, rig hulle hul versoekings op daardie terrein van swakheid.

Paulus waarsku, “Dat julle ... die oue mens moet aflê ... en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed ... en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efésiërs 4:22,23,27). Die prys van ‘n oorwinnende lewe is nie ‘n geringe saak nie; dit beteken om ons lewens volkome aan God se Woord te onderwerp, met geen donker plekke, verborge begeertes of rebellie nie. Daar is krag in God se Woord – daardeur het Hy alle dinge geskep en hou aan om lewe voort te bring. Deur sy Woord, werp God konings omver en rig nasies op, en daardeur seën en red, oordeel en vernietig Hy.

Moenie Satan ‘n sentimeter grond gee nie – dit is al wat hy nodig het om ingang te vind en ‘n magsbasis te vestig.

Hier is ‘n paar terreine om te onthou om ‘n sterk verdediging teen die vyand te hê:

  • Bly in gemeenskap met ander gelowiges (Hebreërs 10:25).
  • Moenie aan onvergewensgesindheid vashou nie (Matthéüs 6:14-15).
  • Laat staan bitterheid en twis (Jakobus 3:14-16).

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit sy vlees” (Hebreërs 10:19-20). Wanneer die vloed instroom en jy oorweldig word, kom na die teenwoordigheid van God op sy troon, omdat die Lam vir jou ‘n weg gemaak het, deur sy bloed.