Vertrou God om Jou Stryd te Beëindig

David Wilkerson (1931-2011)

Jarelank het die Israeliete begeer om regeer te word deur ‘n menslike koning en uiteindelik het God dit toegelaat. Hy het die profeet beveel om Saul te salf om oor Israel te regeer: “En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?” (1 Samuel 10:1).

Samuel het in wese gesê, “Die Here is met jou, Saul. Jy is ‘n uitverkore werktuig, met die hand deur God uitgesoek.” Verder het God Saul dadelik geseën met ‘n hart om sy roeping te vervul: “God [het] sy hart verander ... en die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het” (1 Samuel 10:9-10).

Wie sou nie wou hê dat so ‘n man hulle koning moes wees nie? Saul was nederig, dapper, aantreklik en het God se guns gehad. Met ander woorde, die toonbeeld van ‘n goddelike leier. Maar dit is ongelooflik dat hierdie gesalfde man in opperste wederstrewigheid sou sterf. So, wat het met Saul gebeur wat hom so laat agteruit gaan het?

Saul se kritieke oomblik het gekom toe Israel teen die Filistyne, ‘n uitdagende vyand, te staan gekom het en Saul God se leiding vooruitgegaan het. Hy het met vrees opgetree, nie met geloof nie, en het so ‘n verskriklike sonde teen die Here gepleeg dat dit gelei het dat sy aanstelling as koning teruggetrek was. Waarom? Omdat God geweet het dat Saul van daardie dag af vorentoe dooie geloof aan Hom sou bied, en tydens enige situasie wat sou opduik, sou konkel en manipuleer. (Lees hierdie hele storie in 1 Samuel 13).

God ken elke mens se hart en Hy is nooit te laat om in te tree in ons stryd nie. Ongeloof is dodelik, die gevolge daarvan is tragies – dit is duidelik uit Saul se lewe. Van die oomblik af wat hy sy deurslaggewende besluit geneem het om sake in sy eie hande te neem, het sy lewe agteruitgegaan.

Geliefde, skep moed! Daar is goeie nuus vir elke gelowige in hierdie eeu van die Nuwe Verbond. God verseker ons dat almal wat aan geloof vashou en in Hom glo, geëer sal word, maak nie saak hoe hopeloos die situasie lyk nie. “Sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:7).