Blydskap Deur Bekering

David Wilkerson (1931-2011)

Die getuienis wat God in sy kinders wil voortbring, is blydskap – ware, blywende blydskap. “Die blydskap in die Here - dit is jul beskutting” (Nehemía 8:11). Hierdie blyskap, wat die gevolg is van Bybelse prediking en ware bekering, bring ware krag vir God se kinders en trek sondaars in sy huis in.

Die meeste Christene assosieer nooit blydskap met bekering nie, maar bekering is eintlik die moeder van alle blydskap in Jesus. Daarsonder, kan daar geen blydskap wees nie. Toe Dawid ongehoorsaam was, het hy die blydskap van die Here verloor en kon dit slegs herstel word met ware bekering. Daarom het hy gebid, “Was my heeltemal van my ongeregtighede en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” (Psalm 51:4-5). Dawid het ook gebid om dit wat hy verloor het, terug te kry: “Gee my weer die vreugde van u heil” (Psalm 51:14).

Dit is onmoontlik om die blydskap van die Here te handhaaf as daar sonde in jou lewe teenwoordig is. Ons moet ons toenemend van die wêreld rondom ons afsonder. Hoe kan die Heilige Gees blydskap uitgiet oor ‘n volk wat aanhou om hulleself oor te gee aan owerspel, verslawings en materialisme. En lewe soos diegene wat Christus nie volg nie.

Slegs die blydskap van die Here gee vir ons ware krag. Ons kan net soveel as wat ons wil oor ons lang wandel met Christus praat, maar as ons nie die Heilige Gees toelaat om die blydskap van die Here in ons harte te handhaaf nie – as ons nie voortdurend smag na sy Woord nie – dan is ons besig om ons vuur te verloor en sal ons nie gereed wees vir wat in die laaste dae oor die wêreld kom nie.

Hoe handhaaf ons die blydskap van die Here? Ons doen dit op dieselfde manier wat ons sy blydskap in die begin verkry het.

  • Eerstens, ons het God se Woord lief, eerbiedig dit en smag opgewonde daarna.
  • Tweedens, ons lewe voortdurend in bekering.
  • Derdens, ons sonder ons af van alle wêreldse invloede.

Dit is hoe ‘n Heilige Gees gevulde mens of kerk “Jesus se blydskap” handhaaf en altyd vol blydskap jubel.