Die Ewige Lewe Maai

David Wilkerson (1931-2011)

Ons het almal gehoor, “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galásiërs 6:9), en dit word gewoonlik met ‘n negatiewe konnotasie genoem, maar daar is ook ‘n positiewe kant deur te saai: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (6:9).

‘n Gelykenis is ‘n storie wat ‘n waarheid illustreer en in die gelykenis van die talente, fokus Jesus primêr op die goeie kant van saai, wat saai in die Gees is om die ewige lewe te maai.

“Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen volgens sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek. En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken” (Matthéüs 25:14-19).

Kortliks, die gelykenis gaan oor ‘n man wat drie diensknegte met verskillende hoeveelhede geld toevertrou het om te hanteer terwyl hy op reis was. Toe hy terugkeer, het hy gevind dat twee van sy diensknegte hulle geld belê het en ‘n wins gemaak het, terwyl die derde sy geld net in veilige bewaring gebêre het. Die meester was tevrede met die eerste twee en baie ongelukkig met die derde.

Jesus is “die man wat op reis wou gaan” (25:14) en ons is die diensknegte met die talente wat ons genade en openbaring van Jesus verteenwoordig. Ons word beveel om uit te gaan en hierdie openbaring te saai. Hierdie gelykenis bewys dat God ‘n vrugbare, heerlike oes sal hê aan die einde. Twee uit drie van die Here se diensknegte sal na die oordeel kom met vrug en vol blydskap – goeie en getroue diensknegte – en die derde sal verban word.

Geliefde, ek moedig jou aan om jou hart te ondersoek en dan deel te word van God se laaste-dag leër! Hy sal ‘n laaste-dag oes hê en slegs gewillige, getroue diensknegte van die Here sal deel wees van hierdie groot insameling.