Verkry Blydskap in die Donkerste Tye

David Wilkerson (1931-2011)

“En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:10). In hierdie gedeelte, sê Jesaja vir ons dat te midde van die donker tye wat kom, sommige van God se uitverkorenes wakker sal word en die Gees van Christus in besit sal neem. Wanneer hulle dit doen, sal die Heilige Gees veroorsaak dat ‘n gees van blydskap en vreugde so diep in hulle bly dat geen toestand of omstandigheid of mens hulle blydskap sal kan steel nie.

Daar is miskien geen blydskap in ons goddelose samelewing, onder die goddelose of selfs in dooie, formele kerke nie. Maar Jesaja spreek ‘n boodskap van hoop vir die regverdige: “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is!” (51:7). God praat hier met almal wat Hom ken en gehoorsaam.

Ons wat Christus se geregtigheid ken, moenie leef soos diegene sonder hoop nie. Ons is geseën met beide die liefde en die vrees van God, en sy wil vir ons in die donkerste tye, is om sy blydskap te verkry. Selfs as ons oordeel oral rondom ons sien val, moet ons sing, jubel en juig – nie omdat oordeel gekom het nie, maar ten spyte daarvan.

God herinner sy volk dat Hy, “van die dieptes van die see ’n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes” (51:10). Hy het in wese gesê, “Ek is steeds die Here, die werker van wonderwerke, en my arm is steeds sterk om jou te verlos.” Wat wil God dus hê moet sy kinders weet in die lig van hierdie waarheid? Hy sê dit alles in een vers, Jesaja 51:11.

  • “So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel.” Met ander woorde, “Ek gaan ‘n volk hê wat na My terugkeer met vertroue, geloof en vrymoedigheid.”
  • “En ewige vreugde sal op hulle hoof wees.” Die blydskap van God se volk sal nie net vir ‘n Sondagoggend, of ‘n week of ‘n maand wees nie. Dit sal hou tot aan die heel einde.
  • “Kommer en gesug vlug weg.” Dit beteken nie dat al ons lyding sal ophou nie, maar dit beteken dat ons vertroue in die Here ons bo alle pyn en beproewing sal uitlig.

God het deur die eeue afgekyk en gesê, “Ek gaan ‘n volk hê wat blydskap verkry.” Jy kan dit in besit neem en dit sal joune wees – vir ewig!