Word Wys teen die Duiwel se Aanvalle

David Wilkerson (1931-2011)

Ons weet uit die Skrif dat almal wat waarlik alles vir Christus gegee het, storms en groot beproewings beleef: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Verder, as jy na die Here smag – as jy vasbeslote is om Hom met jou hele hart te soek en jou verstand en siel daarop rig om sy Woord te gehoorsaam – sal jy voortdurend ‘n teiken wees vir die duiwel se afguns.

Die moeilikste van alle geestelike oorloë vind plaas in die gedagtes van die gelowige. Baie Christene stry teen gedagtes wat onderdrukkend, vreesaanjaend, onchristelik is. Hulle stry teen herinneringe van vorige mislukkings en voel op die ou einde onwaardig vir gemeenskap of vir God se seëninge. Daar is nie altyd antwoorde vir al die redes waarom gelowiges ly nie, maar een ding is seker. Satan is altyd daaragter.

Die duiwel wil God se heiliges beroof van hulle rus, hulle intimiteit, hulle hoop op die paradys by die Here – kortliks, al die dinge wat hy verloor het toe hy uit die hemel gewerp is. Die oomblik wanneer jy ‘n besluit maak om volkome toegewyd te wees aan Jesus, en God se belange joune word, word jy ‘n teiken van Satan se toorn.

Al is jou geloof dalk swak op hierdie oomblik, sal Satan jou nie met rus laat nie. Hy is vasbeslote om nie toe te laat dat die Heilige Gees enige kans kry om daardie vlam in jou aan die brand te steek nie. Om hierdie rede, waarsku Paulus ons om nie onkundig oor die duiwel se planne te wees nie: “Want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11). As ons die vyand se taktiek ignoreer, kan ons hom toelaat om ‘n voet in die deur, of die oorhand oor ons te kry.

Paulus skryf, “Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (11:14-15). Paulus se waarskuwing hier is baie duidelik: Satan gebruik goddelose mense as boodskappers van sy toorn en afguns. En, volgens die apostel, het hierdie mense die kerk geïnfiltreer. Het jy al sulke mense ontmoet?

Trouens, ons gaan almal in ‘n stryd gewikkel wees totdat ons sterf of tot Jesus terugkeer aarde toe. Ons kan tye van kalmte gegee word, maar solank as wat ons op aarde is, is ons gewikkel in geestelike oorlogvoering. Maar aan ons is wapens gegee wat magtig is om die vestings van die Satan neer te werp (sien 2 Korinthiërs 10:3-5). Ons is toegerus met wapens wat Satan nie kan weerstaan nie: gebed, vas en geloof. Halleluja!