God Het Jou Nie Oorgeslaan Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Een van die grootste laste wat ek as ‘n herder van die Here het, is, “O, God, hoe bring ek hoop en vertroosting vir gelowiges wat deur groot pyn en lyding gaan? Gee vir my ‘n boodskap wat hulle twyfel en vrees sal wegneem. Gee vir my waarheid wat die trane van die bedroefdes sal laat opdroog en ‘n lied op die lippe van die hopeloses sal sit.”

Die boodskap wat ek van die Heilige Gees vir God se kinders hoor, is baie eenvoudig: “Gaan na my Woord en staan op my beloftes. Verwerp gevoelens van twyfel.” Alle hoop word uit God se beloftes gebore.

Eenkeer het ek ‘n brief ontvang wat ‘n pragtige lewende illustrasie hiervan is. Dit is van ‘n moeder wat skryf, “My dogter is sestien jaar oud. Sy het ‘n fisieke degenerasie van haar spiere, ligamente en gewrigte, en is in erge pyn vier-en-twintig uur per dag. Ek het my seun aan selfmoord verloor in 1997 as gevolg van dieselfde pyn. Hy was twee-en-twintig toe hy ná nege jaar van lyding sy eie lewe geneem het. Hy kon die pyn nie meer verdra nie.

“My dogter was ‘n ballerina en het uitgesien om na Julliard Skool in New York Stad te gaan. Maar haar drome is verpletter toe sy dieselfde siekte, wat haar broer gemartel het, gekry het. Die dokter het gesê dat haar pyn op ‘n skaal van 1 tot 10, ‘n 14 is. Die hoeveelheid pynstiller wat sy nodig het om effektief te wees, sal haar niere vernietig en daarom kan sy nie die medisyne neem nie.

“Sy het die Here lief, en is ‘n plesier om by te wees. Sy is ‘n wonderlike digter wie se geskrifte in meer as 15 publikasies verskyn, en sy is gelys op die ‘Internasionale Wie is Wie in Poësie.’”

Ten spyte van dit alles, onder ‘n onophoudelike beproewing van liggaam en siel, plaas hierdie moeder en dogter hulle hoop in God se Woord vir hulle. En Hy gee hulle vrede.

Probeer die vyand vir jou sê dat God jou oorgeslaan het? Word jy versoek om tot die gevolgtrekking te kom dat die Here nie met jou is nie? Het jy amper jou geloof prysgegee? Plaas jou hoop in die Here se Woord aan jou:

“Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

“So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (Psalm 9:10-11).