Hoe Wandel Jy in die Gees?

Jim Cymbala

Paulus het gesê: “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Galásiërs 5:16). Klink eenvoudig, nê? Wandel net deur die Gees. Probleem opgelos! Maar hoe op aarde pas ‘n mens so ‘n vers toe? Hoe wandel jy in die Gees? Hoe lyk dit op daaglikse basis?

Ons kan ons voorstel wat dit beteken om met Jesus te wandel. Die dissipels het dit gedoen. As Jesus vyf dae in Kapernaum gebly het, het hulle vyf dae in Kapernaum gebly. As Jesus vir middagete gestop het, het hulle vir middagete gestop. As hy regs gedraai en met die pad afgeloop het, het hulle Hom gevolg. Maar hoe doen ons dit met die onsigbare Heilige Gees? Sommige sê miskien: “Doen dit net volgens die Woord.” Maar dit is juis die Woord wat vir ons sê om deur die Gees te wandel. Om ons harte met die Skrif te vul, bou geloof en moedig ons aan. Maar hier word vir ons gesê dat die navolging van die Gees en met Hom tred hou, die enigste manier is om verlos te word van oorgawe aan ons vleeslike natuur en die lelike potensiaal daarvan. Hoe doen ons dit?

In die eerste plek, beteken vertroue op die Gees dat ons sy hulp het om onsself te bekeer van die sondes wat ons so maklik verstrik. Baie gelowiges lieg vir hulleself en ontken die “geheime verdrag” wat hulle met ongehoorsaamheid gesluit het. Die Heilige Gees alleen kan ons help om eerlik met God te wees. Of ons nou sukkel met openlike verkeerde gedrag of subtieler onchristelike houdings, fokus die Gees se lig direk op die infeksie en help ons om opreg daarvan weg te draai. Bekering is ‘n 180 grade draai van sonde en selfsug terug na God toe.

Wandel deur die Gees is ‘n vier-en-twintig uur per dag, sewe dae per week leefstyl. Dit gaan nie daaroor om Sondae kerk toe te gaan nie. Dit verg baie gebed en sensitiwiteit. Terwyl die Heilige Gees kosbare werk verrig, beïnvloed Hy die vorming van begeertes in ons binneste, wat ons selfsugtige neigings tot sonde doodmaak. Ons oorwin die vleeslike natuur, nie deur self daarteen te veg nie – ‘n verlore stryd as daar ooit een sou bestaan ​​– maar deur die Heilige Gees toe te laat om sy krag elke sekonde van die dag namens ons uit te oefen. Trouens, die enigste een wat die vlees kan doodmaak, is die Gees van die lewe.

Die Gees van Jesus in ons wil ons dae met liefde bestuur en ons na die skoon, vars lug van Christelike woorde, gedagtes en dade lei. Vra die Here om jou heilig te maak soos Hy heilig is!

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.