Hoop vir die Hartseer van die Verlede

Gary Wilkerson

Baie mense het herstel nodig na lewenslange hartseer en gebrokenheid. As wonde diep is, probeer sommige mense dit onderdruk, en laat nooit toe dat hulle emosies na die oppervlak kom nie, omdat dit te seer is om in die oë te kyk. Selfs Christene verberg hulle stryd en kruip agter Bybelstudie of diens weg en druk deur ten spyte van hulle lyding.

Jesus het niemand ‘n lydingvrye lewe belowe nie, maar Hy belowe wel dat ons weer oorvloedige lewe kan kry. Johannes sê vir ons, “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4). Aan ons is die gesag gegee deur die Heilige Gees wat in ons woon en ons is geroep om van daardie gesag gebruik te maak wanneer ons ons vyande aandurf.

Vir enige broer of suster wat ly en hier lees, praat die Bybel van een gebod meer as enige ander: “Moenie vrees nie.” Waarom sou God dit meer sê as “Moenie sondig nie” of “Wees lief vir mekaar”? Dit moet wees omdat God weet dat ons vreesaanjaende gebeure in ons lewens sal hê wat kan maak dat ons wil wegdeins.

Ons weet reeds dat aan ons bonatuurlike gesag gegee word om in die stryd te bly. Jesus stel ons gerus: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannnes 16:33). As jy kies om pyn uit te sluit, sluit jy ook die moontlikheid uit om liefde te ontvang om die pyn te genees. Vriend, ons hoop lê nie in ons belewenisse van die verlede nie, maar in die toekoms wat Jesus vir ons gereed gemaak het. “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting” (Psalm 62:5).

Die Here se liefde is onvoorwaardelik: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde ... word nie verbitterd nie ... Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Korinthiërs 13:4-7). Elke seer mens behoort hierdie onvoorwaardelike liefde op homself toe te pas. Dit beskryf immers God se liefde vir jou. Almal wat hierdie liefde van God verstaan, sal nie uiterlike bekragtiging nodig hê nie.

Onvoorwaardelike liefde openbaar hierdie waarheid: “Jy groei. Jy word beproef. Hierdie uitdaging roep jou tot nuwe hoogtes omdat die barmhartige, genadige, genesende fondament wat Jesus onder jou geplaas het, solied is.”

Jy sal uitdagings beleef, maar jou Vader het krag in jou geplaas om dit alles te oorwin. Bly  in die stryd, bly in gemeenskap en kry sy oorvloedige lewe wat jou dag na dag vervul.