‘n Geloof Wat Krisis Deurstaan

David Wilkerson (1931-2011)

Ons samelewing is desperaat om in hierdie moeilike dae hoop en vrede te vind. Hulle smag na die waarheid van Jesaja 26:3: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” Hulle sal God se kinders dophou om ‘n getuienis te sien van sy voorsiening en hoe Hy vir sy kinders sorg. Dit is interessant om daarop te let dat die wêreld gelowiges, wat uitdagings beleef, dophou. Hulle verwag dat ons ‘n lied moet sing te midde van ons moeilikste tye. Ons sien voorbeelde hiervan in die Woord van God. Psalm 137 beskryf die ballingskap van Israel deur die Babiloniërs, toe God se volk alles verloor het, ook hulle vaderland. Hulle gevangenes wou graag die liedjies van die oorwinning hoor waarvoor die Israeliete bekend was.

“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang. Want daar het julle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied” (Psalm 137:1-3).

Die Israeliete was bekend daarvoor dat hulle oorwinningsliedere gesing het; hulle gevangenemers het daarop aangedring: “Sing vir ons! Ons het gehoor van die groot oorwinningsliedere wat julle vir God sing, so speel dit vir ons!” Sommige sal dalk voorstel dat hierdie aandrang as bespotting bedoel was, maar ek glo dat die Babiloniërs opreg daarna gesmag het om ‘n getuienis aan te hoor. Hulle eie godsdiens het hulle leeg, droog en hopeloos gelaat.

Net so vra die wêreld vandag ‘n oorwinningslied van God se kinders. Wat hulle regtig wil weet, is: “Hoe gaan julle optree in hierdie huidige krisis? Ons het gehoor dat julle dink dat julle God getrou en magtig is, maar vertrou julle Hom in tye soos hierdie? Bly julle geloof regtig staande in krisistye?”

“En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou” (Psalm 40:3). Jou teer, liefdevolle Vader wat medelye het met jou swakhede, gee vir jou ‘n lied, maak nie saak wat jy deurmaak nie.