Versterk in die Vuur

Carter Conlon

“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efesiërs 6:13, AFR53).

Dit was die apostel Paulus wat hierdie woorde neergepen het om die gelowiges in Efese te vermaan. ‘n Ander vertaling sê dit so: “Na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan” (NLV). Natuurlik sou daar nie veel betekenis aan Paulus se woorde wees as hy self nie deur die vuur gegaan en uiteindelik kon bly staan het nie.

Reeds van die heel begin van sy bediening af, is groot lyding en beproewinge aan die apostel Paulus toevertrou. Kort nadat die Here Paulus op pad na Damaskus voorgekeer het, het ons Verlosser in ‘n visioen verskyn aan ‘n man met die naam Ananias en vir hom gesê hy moet vir Paulus gaan bid. “Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand. 9:15-16).

Paulus het duidelik begryp dat hy deur God aangestel was om sy getuie te wees, en daarom het hy die lyding wat met hierdie roeping gepaardgaan, aangeneem. Trouens, hy het selfs so ver gegaan dat hy lyding as “gemeenskap” beskou het. Let op wat hy vir die Filippense kerk gesê het: “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Filippense 3:10).

Dit is tragies dat hierdie waarheid rakende lyding in die Christelike lewe grootliks in baie van die hedendaagse teologie verwaarloos word. Ek vind dit afgryslik dat daar selfs plekke is waar mense Paulus se lewe en die dinge waardeur hy moes gaan, heeltemal buite rekening laat. In plaas daarvan, gebruik hulle die woorde van Paulus om mense op een of ander manier te oortuig dat lyding en beproewinge nie deel van die Christelike belewenis moet wees nie. Dit is byna ondenkbaar, veral as ons in die Skrifte sien dat Paulus beslis nie probeer het om sy beproewings vir die vroeë kerk weg te steek nie. Paulus is voortdurend oorgelewer op plekke waar hy nie in eie krag sou kon oorleef nie. Hy het lyding en beproewinge in so ‘n mate beleef dat hy sonder die infusie van Christus se lewe in hom, dit nie in sy eie menslike vermoë sou kon verdra nie. Paulus het egter ‘n innerlike kern besit wat vir ons vandag bewys dat gewone mense in staat is om al die teëspoed en teenstand wat hulle in die lewe van Christus ervaar, kan deurstaan.

Lyding is deel van die Christelike lewe en ons geloof word dieper elke keer as ons getoets word, dank God!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.