Die Genesende Salf van Verkwikking

David Wilkerson (1931-2011)

“Mag die Here aan die huis van Onesíforus barmhartigheid bewys, want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie; maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind ... En jy weet baie goed hoeveel dienste hy in Éfese bewys het” (2 Timótheüs 1:16-18).

Onesíphorus was een van Paulus se geestelike seuns en hy het Paulus so innig en onvoorwaardelik liefgehad dat hy hom tydens sy lyding opgesoek het. Een keer, toe Paulus in die tronk was, het Onesíforus deur die stad na hom gesoek totdat hy hom gevind het. Sy motivering was eenvoudig: “My broer ly. Hy het die angste van skipbreuk gely en nou word hy deur Satan gefolter. Ek moet hom bemoedig.”

Die bediening van verkwikking sluit duidelik die soek na diegene wat ly in. Ons hoor deesdae dat daar baie oor krag in die kerk gepraat word: krag om siekes te genees, krag om verlorenes te wen, krag om sonde te oorwin. Maar ek sê daar is 'n groot genesende krag wat vloei uit ‘n mens wat verkwik en vernuwe is. Depressie, verstandelike angs of ‘n onrustige gees kan allerlei fisiese siektes veroorsaak, maar ‘n gees wat verkwik en aangemoedig word – een wat aanvaar, geliefd en nodig voel – is die genesende balsem wat die nodigste is.

Ons vind hierdie bediening van verkwikking ook in die Ou Testament. Toe koning Saul Dawid agtervolg het, was hy uitgeput en seergemaak en moes hy dag en nag vlug. Gedurende daardie tyd, het hy verwerp gevoel deur God se leiers en God se volk. Toe, op ‘n belangrike oomblik, kom Dawid se vriend Jónatan na hom toe: “Daarop het Jónatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed” (1 Samuel 23:16-17).

Dit was net wat Dawid nodig gehad het om te hoor en sy gees was dadelik verkwik om verder te gaan. Ons sien hierdie voorbeeld telkens in die Skrif: God stuur nie ‘n engel of visioen nie, maar ‘n medegelowige om sy geliefdes te verkwik.