Chaos en Konflik in die Kerk

Gary Wilkerson

Nêrens in die Bybel staan daar dat Petrus, Jakobus en Johannes ‘n probleem gehad het met die slae of die bevele van die owerhede om nie die evangelie te verkondig nie. Dit onderdruk nie die kerk nie. Dit is nie eksterne druk of eksterne vervolging wat God se werk onder sy kinders laat skipbreuk ly nie. Dit is chaos en konflik wat van binne die kerk af kom. 

“En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs” (Handelinge 6:1, AFR53). Wanneer ‘n kerk groei, wanneer daar baie mense bymekaar is, is daar konflik. “Hierdie persoon het opgetree op ‘n manier waarvan ek nie gehou het nie; daardie mense is bevooroordeeld.” Skielik is daar ‘n klag teen ander gelowiges in die kerk.

Wanneer hierdie dinge begin gebeur, wees versigtig. Hoe vinnig raak klagtes erger! Dit is een van die gevaarlikste dinge wat by ‘n kerk kan posvat.

Twis, stryery, versuim om mekaar te dien, en om mekaar skade te berokken, sal die kerk vernietig. Dit sal ons getuienis bederf. Dit sal die vloei van salwing blokkeer wat deur die Heilige Gees kom. Wat my die meeste pla, is nie die politieke situasie in ons land of die ‘seksuele rewolusie’ nie, alhoewel die dinge dikwels skrikwekkend is. Dit is nie die wêreld wat wêrelds is wat my bekommer nie. Dit is die kerk wat wêrelds is wat my pla.

Te midde van daardie eksterne druk, het Jesus ‘n lig en ‘n getuienis deur sy kinders, maar as daardie getuienis deur konflik besoedel word, waar staan ons dan? As sout sy southeid verloor, waarvoor is dit goed?  

Laat daar so ‘n honger na geregtigheid onder ons wees dat ons vinnig afreken met wêreldsheid in onsself en laat ons ook konflik met ander gelowiges vinnig oplos. Laat ons daarna streef om mekaar in alle nederigheid en liefde te dien.