Vrede Groter as die Storm

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus gee ons meer as een rede waarom ons sy vrede nodig het. Christus het vir sy dissipels in Johannes 14:30 gesê: “die owerste van hierdie wêreld kom.” Wat was die konteks van sy stelling? Hy het pas vir die twaalf gesê: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie” (14:30).

Jesus het geweet dat Satan in daardie uur aan die werk was. Die duiwel het Judas reeds aangestel om Hom te verraai. En Christus het geweet dat daar aan die godsdienstige hiërargie in Jerusalem mag gegee is deur die owerhede van die hel. Hy was ook daarvan bewus dat ‘n duiwel-geïnspireerde skare binnekort sou kom om Hom gevange te neem. Dit is toe Jesus vir die dissipels sê: “Satan, die goddelose, is op pad. Ek sal dus nie veel meer met julle praat nie.”

Jesus het geweet dat Hy tyd saam met die Vader nodig gehad het om vir die naderende konflik voor te berei. Hy was op die punt om in die hande van goddelose mense oorgegee te word, net soos Hy gesê het. En Hy het geweet dat Satan alles in sy vermoë gedoen het om sy vrede weg te neem. Die duiwel sou Hom teister en probeer ontmoedig, alles in ‘n poging om Christus se geloof in die Vader te verbreek – enigiets om Hom sover te kry om die Kruis te vermy.

Jy is miskien verdwaas en dink: “Dit is verby. Ek gaan dit nie maak nie.” Maar Jesus sê: “Ek weet waardeur jy gaan. Kom drink van my vrede.”

Op die oomblik, beleef jy miskien die moeilikste tyd wat jy nog ooit beleef het. Jou lewe is dalk onrustig en dinge lyk hopeloos. Dit lyk asof daar vir jou geen uitweg is nie, en waarheen jy jou ook al wend, vul jou met meer spanning, verwarring en moegheid.

Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie. Jou lewe kan lyk asof dit deur ‘n tornado getref is. Jy sal miskien beproewings deurgaan wat veroorsaak dat ander jou as ‘n hedendaagse Job beskou. Maar te midde van jou probleme, wanneer jy die Heilige Gees aanroep om jou in die vrede van Christus te doop, sal Hy dit doen.

Mense sal na jou wys en sê, “Daardie persoon se wêreld het heeltemal in duie gestort. Tog is hy vasbeslote om God se Woord te vertrou, lewend of dood. Hoe kan hy dit doen? Hoe kan hy aangaan? Hy moes lankal opgehou het. Tog het hy nie moed opgegee nie. En deur alles heen het hy geensins dit wat hy glo in gedrang gebring nie. Wat ‘n wonderlike vrede! Dit gaan die verstand te bowe.”

Tags