God se Groot Besorgdheid

David Wilkerson (1931-2011)

Te midde van hierdie wêreldwye “skudding van alle dinge”, wat is God se groot bekommernis in dit alles? Die Bybel sê vir ons dat God se aangesig op sy kinders gerig is: “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Psalm 33:18).

Ons Here is bewus van elke beweging van elke lewende wese op die aarde. En tog is sy blik hoofsaaklik gerig op die welstand van sy kinders. Hy vestig sy aandag op die lyding en behoeftes van elke lid van sy geestelike liggaam. Eenvoudig gestel, alles wat ons seermaak, raak Hom.

Om dit vir ons te bewys, het Jesus gesê: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer vir Hom wat die siel sowel as liggaam kan verderwe in die hel” (Matthéüs 10:28). Selfs te midde van groot oorloë in die wêreld, is God se primêre fokus nie op tiranne nie. Sy fokus is op elke omstandigheid in sy kinders se lewens.

Christus sê in net die volgende vers: “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie” (Matthéüs 10:29). In Christus se tyd, was mossies die vleis van die armes en was twee vir ‘n sent verkoop. Maar Jesus het gesê: “Nie een van hierdie skepseltjies val op die grond sonder dat jou Vader dit weet nie.”

Jesus se gebruik van die woord “val” in hierdie vers beteken meer as die dood van die voël. Die Aramese betekenis is “om op die grond te hop”. Met ander woorde, 'val' hier dui op elke sprongetjie wat ‘n klein voëltjie maak.

Christus sê in wese vir ons: “Jou Vader se oë is nie net op die mossie wanneer dit sterf nie, maar ook wanneer dit op die grond hop. Wanneer ‘n mossie leer vlieg, val hy uit die nes en begin op die grond rond te hop. En God sien elke stryd wat hy het. Hy is besorg oor elke detail in sy lewe.”

 Jesus voeg dan by, “Wees dan nie bevrees nie; julle is meer werd as baie mossies” (10:31). Trouens, Hy sê: “En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel” (10:30). Eenvoudig gestel, die Een wat al die sterre gemaak en getel het – wat elke daad van die Romeinse Ryk dopgehou het, wat die sterrestelsels in hul wentelbane hou – het sy oog op jou gevestig. En Jesus vra: “Is jy nie baie meer werd vir Hom nie?”