Een Pad na die Troon

David Wilkerson (1931-2011)

Jy kan jouself nie in hierdie hemelse plek inhuil nie. Jy kan nie jou weg daarin studeer of werk of wil nie. Nee, die enigste weg na die troonlewe is deur middel van ‘n lewende offer: “Dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens” (Romeine 12:1).

Paulus praat uit ervaring. Hier is ‘n man wat verwerp, versoek, vervolg, geslaan, tronk toe gestuur is, skipbreuk gely en gestenig is. Paulus het ook al die sorge van die kerk op hom laat neerkom. Nou sê hy vir ons: “Wil jy weet hoe ek vergenoeg was, al was ek in watter toestand ook al geplaas, hoe ek ware rus in Christus gevind het? Hier is die weg, die geheim om jou hemelse posisie toe te eien: bied jou liggaam aan as ‘n lewende offer aan die Here.”

Die Griekse stamwoord hier van “lewende” dui op “lewenslange.” Paulus praat van ‘n bindende verbintenis, ‘n offer wat een keer in ‘n leeftyd gemaak word. Moet tog nie verkeerd verstaan ​​nie; dit is nie ‘n offer wat te doen het met versoening vir sonde nie. Christus se offer aan die kruis is die enigste waardige versoening: “Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen” (Hebreërs 9:26).

Die offer wat Paulus beskryf, is een waarin God Hom verlustig, juis omdat dit die hart betrek. Wat is hierdie offer? Dit is een van die dood van ons wil, om ons selfgenoegsaamheid opsy te sit en ons ambisies te laat vaar.

As Paulus vermaan: “Stel jou liggaam,” bedoel hy: “Nader tot die Here.” Maar wat beteken dit presies? Dit beteken om tot God te nader met die doel om ons hele wese aan Hom toe te wy. Dit beteken dat ons nie in ons eie genoegsaamheid na Hom toe moet kom nie, maar as ‘n opgestane kind, as heilig in Jesus se geregtigheid, as deur die Vader aanvaar deur ons posisie in Christus. Die oomblik as jy jou wil aan Hom oorgee, is die offer gebring. Dit gebeur as jy die stryd opgee om God op jou eie te probeer behaag. Hierdie geloofsdaad is die “redelike godsdiens” waarna Paulus verwys. Dit gaan daaroor om Hom met ons wil te vertrou en te glo dat Hy al die seëninge sal voorsien wat ons nodig het.