Die Enigste Manier om Vrug te Dra

Jim Cymbala

Vrug in die Bybel kan baie dinge beteken; dit kan vrug van die Gees beteken, dit is liefde, vreugde, sagmoedigheid, vriendelikheid; maar dit kan ook vrug van bediening beteken. Soos ons in die Nuwe Testament sien, het sekere manne van Ciprus en Cirene na Antiochië gegaan, en die hand van die Here was by hulle en menigtes het hulle tot die Here bekeer (sien Handelinge 11:19-26).

Hoe het hulle dit gedoen met die grootste deel van die Nuwe Testament nog ongeskrewe, geen openbare geboue beskikbaar om te preek nie, met Keiser Caligula of Keiser Nero wat beweer dat hy 'n god op die troon was? Hoe het hulle dit gedoen sonder om te kla oor die kultuur of die omgewing en hoe moeilik dit met al hierdie heidense afgode was? Hulle het net voortgegaan met die werk.

Toe ek lank gelede verskonings gemaak het vir 'n gebrek aan vrug, het God my onderstebo gekeer en 'n paar belangrike werklikhede tot my gebring. Die enigste manier om vrug te dra, is om die evangelie van Jesus Christus te deel.

Die meeste mense het gehoor van die beroemde D. L. Moody, een van die grootste evangeliste van die 19de eeu wat ook verantwoordelik was vir die stigting van die Moody Bible Institute. Vier jaar voor sy dood, het Moody 'n brief geskryf sonder hoofletters of leestekens. Woorde is verkeerd gespel. Die man sou vandag bespot gewees het met ons klem op gladde verloop en aanbieding. Hy het egter vrug gedra. Mense het hom gehoor en hulle tot die Here bekeer.

Soos die Skrif sê: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (Johannes 15:7-8, AFR53).

Die werk van God word deur geloof voortgesit! “Die regverdige sal uit die geloof lewe” (Hábakuk 2:4, Romeine 1:17, AFR53). Ons moet net die Woord deel, want as ons dit doen, kom die Gees binne en dan is verandering moontlik.

Moenie daardie suiwer, goeie nuus meng met wettiesheid, kerkkultuur, ons eie slimheid of “kreatiewe” toevoegings as 'n manier om ons eie ego's uit te druk nie. Ons sal eendag 'n antwoord moet gee vir die kwaliteit van ons werk (sien 2 Korinthiërs 13:5-7). Wie gaan ons meet? Nie ons eweknieë nie! Ons sal gemeet word aan die Woord van God.

Ons word geroep om ambassadeurs te wees, en ambassadeurs dra slegs die boodskap oor wat hulle aangesê is om te lewer. Niks meer nie, niks minder nie.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.