Die Groot en Finale Skeiding

Ons is lief daarvoor om Jesus se woorde aan te haal oor die oorwinning wat hy aan sy kerk belowe het: “Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéüs 16:18). Paulus sê Christus het sy kerk lief en dit sal in die laaste dae aan Hom voorgestel word as heilig en gewas deur die Woord, ‘n glorieryke bruid sonder vlek, rimpel of enigiets dergeliks (sien Efésiërs 5:25-27). Eenvoudig gestel, die kerk van Jesus Christus aan die einde van tyd, sal ‘n glorieryke, heersende, oorwinnende, liggaam van gelowiges wees. En ons kan hierop staatmaak as ‘n belofte van die Here self.

Die vyand het egter gekom om hierdie glorieryke laaste-dag kerk te vernietig. Paulus waarsku dat God se mense ‘n groot afval van die ware leerstellinge van Christus sal beleef, en in plaas daarvan, sal hulle hul wend na evangelies van wellus en hebsug: “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal veramel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:3-4).

So, watter boodskap moet ons verkondig in hierdie laaste dae? Paulus spel dit baie duidelik uit in hierdie gedeelte: ‘n boodskap van gesonde leer. Dit bevat die kruis, die wederkoms van die Here, heiligheid, selfverloëning, die laat staan van sonde – alles dinge wat Paulus sê dat talle in die laaste dae dit sal laat vaar. Hy sê selfs vir ons hoe ons sulke leerstellinge moet lewer: “Weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timótheüs 4:2).

Waarom was Paulus gedring om so ‘n sombere woord te bring? Dit was omdat tragedie reeds aan die kom was oor die kerk in die laaste dae, in die gemeentes wat Paulus hier aangespreek het. Hierdie gemeentes het die tugtiging en bestraffing van ‘n gesonde evangelie geweier en het hulleself oorgegee aan hebsug en die plesiere van hierdie wêreld. Hulle wou in die gehoor gestreel word deur ‘n evangelie van materialisme en maklike prediking te hoor. Daarom het daar onder hulle die behoefte ontstaan vir ‘n nuwe geslag predikers, vleeslike mense wat hulle ore sou streel met ‘n kostelose, kruislose, tugtelose evangelie.

Soos Paulus, het Petrus ook geskryf oor diegene wat saamkom om vertroostende preke te hoor van vals leraars wat ‘n evangelie bied wat die vlees bevredig. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4).

Wie is hierdie spotters wat sulke dinge sal sê? Dit is nie die sekulêre skare of die ateïstiese of agnostiese skares nie. Dit is nie Hollywoord, of die dronkes of bedwelmdes nie. En dit is nie Jode of Islamiete nie. Nie een van hulle is begaan oor sulke vra nie, want Christus se koms het vir hulle geen betekenis nie.

Nee, Petrus praat van die massas sogenaamde Christus-volgelinge wat gesonde leer verwerp en ‘n evangelie van hebsug omhels. Die enigste manier waarop sulke mense hulleself kan oorgee aan ‘n evangelie van vlees, is om dit uit hulle gedagtes te haal dat Jesus kom. Dit is die enigste manier waarop hulle ontslae kan raak van die skuld wat saam met hulle ingesteldheid en lewenstyl kom. Dit is diegene van wie Petrus sê, “En om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (1 Petrus 2:2).

Beskou die toestand van die kerk vandag, met al sy wêreldse invloede, sy wêreldse vermaak, sy gemaklikheid en ligsinnigheid, sy fokus op sukses en geld. En dink aan die afwesigheid van goddelike droefheid oor sonde, die gebrek aan selfverloëning en toewyding aan Christus. Dit is duidelik dat die kerk van vandag reeds lank gelede sy gesag verloor het en getap is van sy geestelike krag.

Christus kom nie vir ‘n kerk wat ‘n blyplek van rowers geword het nie. Hy kom nie vir ‘n kerk wat gelei word deur hoof uitvoerende beamptes nie, maar deur die Heilige Gees. Die kerk vir wie Hy kom, het alle dwaasheid en elke valse evangelie verwerp. Dit is ‘n kerk waar kansels gevul is met vreeslose profete en wagte wat preek as spreekbuise van God en nie met geleende boodskappe nie. En dit is gevul met geheiligde gelowiges wat die liefde vir hierdie wêreld vermy en nie toelaat dat dit hulle harte in besit neem nie.

Wat is God se antwoord op die talle leringe van hebsug?

Hoe sal die Here uit hierdie situasie ‘n oorwinnende, triomfantlike, magtige kerk bring, een wat voorbereid is en verlang na sy koms? Die Gees van God gaan geestelike Nasireërs oprig, mans en vroue met Heilige Gees krag, ‘n heeltemal afgesonderde volk wat die wêreld en alle dinge van die wêreld laat vaar het.

Wat is ‘n Nasireër? Dit was iemand in Israel wat by geboorte ‘n eed afgelê het om afgesonder van die wêreld te wees. Nasireërs sou nie wyn drink nie, omdat dit vir hulle die passies en begeertes van die wêreld verteenwoordig het. Hulle sou nie enige dooie ding of persoon aanraak of in kontak daarmee kom nie, omdat dit geestelike dood verteenwoordig het. En hulle sou hulle hare skeer as ‘n teken van toewyding aan hulle lewe van afsondering. Nasireërs was ten volle in die wêreld, maar hulle was nie van die wêreld nie, maar afgesonder vir God, vir sy doelwitte alleen.

Die profeet Samuel was ‘n Nasireër. Net so was Johannes die Doper, ‘n man wat heeltemal afgesonder was vir God en duidelik vol van die Gees was. Simson, wat in die periode van die Rigters geleef het, was ook ‘n Nasireër genoem. Die wêreld het erken dat elkeen van hierdie mans anders was en het gesê, “Hierdie magtige man praat nie soos ons praat nie. Hy leef nie op die manier wat ons leef nie. Hy is afgesonder vir God.”

Dwardeur die wêreld, het God steeds ‘n oorblyfsel van geestelike Nasireërs op kansels en in kerkbanke. Die Here het ‘n hele liggaam van predikers, leraars, evangeliste en gemeentelede wat nie besoedel is met die begeertes en ambisies van hierdie eeu nie. Hierdie afgesonderde mans en vroue van God beweeg in die Gees, verkondig ‘n vurige evangelie wat ongeskonde en gesond is en getuig van die transformerende krag van die Heilige Gees.

Toe Jesus die kerk in Jerusalem begin het na sy opstanding, het Hy hulle nie opdrag gegee om ‘n meningspeiling onder sondaars te doen en hulle te vra watter soort kerk hulle moontlik sou lok nie. Hy het nooit vir hulle gesê om ‘n nie-aanstootlike evangelie te verkondig, sodat mense gemaklik daarmee kan wees nie. In plaas daarvan, het Hy sy volgelinge een eenvoudige opdrag gegee: “Wag vir die uitstorting, vir die beweging van my Gees.”

By Pinkster, was daar ‘n boodskap wat duisende op hulle knieë laat val het: “Hom...het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek” (Handelinge 2:23-24). Wat was die reaksie onder diegene wat gehoor het?

“Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?” (Handelinge 2:37). Die antwoord van Petrus en die ander was duidelik: “Bekeer julle!”

Geliefde, sonder die werking van die Heilige Gees – sonder sy teenwoordigheid en krag met ons – het ons absoluut niks nie. Ons almal sou eenvoudig ons tyd mors. Hy moet die krag wees wat ons beweeg en die harte van ‘n sondige wêreld aanroer.

Satan se plan was om Simson te beroof van daardie krag en sterkte deur Delila. Haar naam beteken om “stadiger te beweeg, makliker te gaan, intensiteit te verloor.” Simson het sterk begin en ‘n lewe geleef, afgesonder vir God terwyl hy Israel gerig het. Toe, vir ‘n periode van twintig jaar, lees ons niks van die Gees se werking met Simson nie. Daar was geen ondernemings, geen magtige oorwinnings oor Israel se vyande nie. Waarom? Hy het moeg geraak vir die afgesonderde lewe en gedink, “Ek is te intens en leef te nougeset. Wat is verkeerd met ‘n bietjie ontspanning? Waarom kan ek nie ‘n paar plesiere van die wêreld proe nie?” Toe het hy gegaan na die Dal Sorek, wat Filistynse gebied was en waar hy die prostituut Delila gekry het en die nag by haar deurgebring het.

Die volgende oggend, het Simson besef dat hy ten spyte van sy wellustige dade, nie sy krag verloor nie. Sy hare het nie uitgeval nie en die Gees het hom ook nie verlaat nie. Klaarblyklik het hy gedink, “Ek kan al die tyd verbode plesiere geniet en steeds my salwing behou.” Hy het van die maklike lewe begin hou. Hy hoef nie meer bekommerd te gewees het oor die veiligheid van Israel of die welstand van weduwee’s en wese nie. In plaas daarvan, het Simson verklaar, “Ek het my tyd ingesit. Nou gaan ek myself ‘n bietjie geniet.”

Dieselfde leuen mislei talle volgelinge van Christus vandag. Hulle sê vir hulself, “O, ‘n bietjie pornografie op die internet sal my nie skade doen nie. En hierdie R-gegradeerde films sal nie my geestelike lewe wegneem nie. Die bietjie wat ek drink, affekteer my nie.” Terwyl Simson egter verslap het in sy afgesonderde lewe, het die vyand agter die toneel gewerk. Die Filistyne het Delila aangepor, “Verlei hom. Vind uit wat die geheim van sy krag is, sodat ons hom kan oorweldig. Gebruik jou sjarme en ons sal hom vasbind en hom gevange neem.”

Simson se tragedie was nie sy hoerery met Delila nie, hoewel daardie sonde erg genoeg was om hom uit God se diens te diskwalifiseer. Nee, Simson se tragedie was dat hy nie meer die werk van die Gees in sy lewe waardevol geag het nie. Die teenwoordigheid van die Here was nie vir hom langer die belangrikste ding nie. Hierdie eens-magtige man van God, het nou die Here se krag en seën in sy lewe heeltemal as vanselfsprekend aanvaar.

Natuurlik het Simson daardie oggend in Delila se skoot wakker geword met sy hare afgeskeer. Hy het vir homself gesê, “Ek het tevore van hulle af weggekom. Dit is nie ‘n groot saak nie.” Hierdie keer, terwyl die Filistyne egter nader gekom het, het Simson agtergekom hy is so swak soos ‘n katjie. Hy het nie besef die Gees van die Here het hom verlaat nie. Die tragiesste is dat God se mense teruggekeer het na die onderdrukkende slawerny van die Filistyne.

Vandag sit duisende Christene in dooie kerke sonder om te besef dat God se Gees gewyk het.

Die gees van Delila het daarin geslaag om talle in die kerk aan die slaap te sus in haar skoot. Die hele tyd word hulle geestelike lewe en krag van hulle getap. Ek vra vir jou, sal Christus se kerk op die ou end beland in die hande van hulle vyande, in slawerny en gevang deur die duiwel? Sal dit die kerk sy dae slyt as ‘n opgeblase, biddelose, onbesorgde liggaam van sogenaamde gelowiges?

Nee, nooit! Dank God, ons Verlosser is nie ‘n blote man soos Simson nie. En die Delila-gees is geen gelyke vir die Seun van die lewende God, Jesus Christus, nie. Sy gaan op haar knieë val en voor Hom buig. Op hierdie oomblik is Christus in werklikheid besig om af te reken met die gees van Delila in sy kerk. Hy het die Heilige Gees opdrag gegee:

“Vernietig hierdie gees van Delila, en jaag almal uit wat daardeur verlei is – elke prediker, elke gemeentelid, enigeen wat genoem word met my Naam. Oortuig hulle van sonde, trek hulle en vertel vir hulle Ek wil hulle nog ‘n kans gee om my heerlikheid te sien, net soos ek met Simson gedoen het. Sê vir hulle hierdie huis van gemak waarin hulle ingesluip het – ‘n huis van verleiding wat so baie geruïneer het – gaan geskud word tot op sy fondament. Die dak sal meegee en dit gaan alles in duie stort.”

Daar word egter vir ons ‘n hoopvolle woord gegee. God het vir die profeet Haggai gesê dat Hy belowe het om sy laaste-dag kerk met sy heerlikheid te vul. “Want so sê die HERE van die leërskare: ‘n Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare” (Haggai 2:6-7).

Eenvoudig gestel, Christus is die begeerte van alle nasies en Hy kom weer. Maar eers sal daar ‘n groot skudding wees. Alles wat kan skud, sê Jesus, sal geskud word. Dit beteken daar sal ‘n groot skeiding wees, en wat ook al nie geskud kan word nie, sal oorbly. So, wat sal die oorblywende deel wees?

Dit sal mense wees wat terughardloop in die arms van Christus in – ‘n kerk wat intens aan die brand is, op haar knieë, verslae, wawyd wakker en wagtend op sy koms is. Dit sal ‘n kerk wees wat weggedraai het van alle flirtasies met sonde en afgesonder is vir die Here, met rein hande en suiwer harte. In so ‘n kerk, is die Heilige Gees vry om te beweeg en te werk op magtige maniere. Niks verhinder sy salwing en werking nie en die heerlikheid van God word duidelik vir almal om te sien.